
Mnr. Dawie Roodt, direkteur en hoofekonoom van die Efficient Group, sê mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, was die kind wat net gebreekte speelgoed tot sy beskikking gehad en maar die beste daarmee moes doen wat hy kon. “ ’n Mens moenie vra of dit ’n goeie of slegte begroting was nie. Dit was die beste wat dit kon wees in die gebroke omstandighede.”
Hy sê Godongwana was te optimisties oor ekonomiese groei en voorspel groei van 0,9% in 2023. “Hierdie is die aspek waar ek die meeste van hom verskil. Die Reserwebank sê 0,3% en ek glo baie eerder die bank. Noudat ons beweeg na fase 7-beurtkrag is die kans goed dat daar geen groei gaan wees nie en dit hou die grootste bedreiging vir die minister in.
“As die ekonomie nie groei nie, is die inkomste uit belasting onder druk. Gaan ons 1,5% groei sien aanstaande jaar? Ek dink ook nie so nie. Vir die afgelope tien boekjare was die tesourie se raming vir ekonomiese groei in agt jare hoër as die werklike syfer op die ou einde.
“In 2021 was die groei hoër as die raming, maar dit was weens die inperking wat opgehef is en dit was kunsmatige omstandighede. In 90% van gevalle is die tesourie dus verkeerd met sy raming van ekonomiese groei. Jy kan maar na enige amptelike raming van ekonomiese groei kyk. Dit lyk altyd in die volgende jaar beter.”
Hy sê daarby moet ’n mens in gedagte hou dat die bevolking teen 1,2% groei en selfs met 1,5% ekonomiese groei is daar geen vooruitgang per capita nie.
Persoonlike belasting
Roodt sê as ’n mens na die staat se belastinginkomste kyk, vorm persoonlike belasting die vernaamste inkomstebron. Net 160 000 individue betaal 30% van die totale hoeveelheid persoonlike belasting. Nog ’n aanduiding van die wanbalans is dat 20% van persoonlike belastingbetalers 90% van die belasting betaal. Hy sê daarom durf die staat dit nie verder verhoog nie.
“As ’n mens na maatskappybelasting kyk, lyk die prentjie nog erger. Slegs 0,09% van maatskappye in die land (770 maatskappye) betaal meer as twee derdes van alle maatskappybelasting. Die res betaal omtrent geen belasting nie en ons kan net sowel klein ondernemings vrystel van belasting om as aansporing te dien. Dit wys hoe afhanklik die ANC-regering van mense is wat waarskynlik nie eens die party ondersteun nie.”
Staatskuld en toelaes
Wat uitgawes betref, is rente op staatskuld tans 18% van die begroting en dit sal verhoog tot 19,8% in 2025-’26. Besteding op rente is reeds R366,8 miljard per jaar.
Roodt sê nog ’n groot bedreiging vir die begroting is die minister se 3,3% verhoging in staatsdienssalarisse, terwyl die vakbonde aandring op 12,5%. “Verhogings was meer as tien jaar bokant inflasie. Die meeste staatsamptenare verdien te veel en doen te min, maar ek kan nie dink met ’n algemene verkiesing volgende jaar gaan die minister wegkom met ’n verhoging van net 3,3% nie. Hierdie is waarskynlik die grootste bedreiging aan bestedingskant.”
Sowat 27 miljoen mense ontvang op die omblik toelaes, maar sowat 10 miljoen se toelaes vir covid-19 is veronderstel om tot ’n einde te kom volgende jaar. Roodt sê hy kan nie sien dat dit sal gebeur nie. Dit beteken met net 15 miljoen mense in Suid-Afrika wat werk, is daar vir elke werkende mens twee ander wat van toelaes leef.
Eskom
Oor die skuldverligting van R254 miljard in totaal aan Eskom het hy gesê dit is belangrik om daarop te let dat Eskom eers aan sekere voorwaardes moet voldoen. Die private sektor moet by steenkoolkragsentrales betrokke raak en daar moet ’n internasionale onderneming betrek word om kragsentrales te beoordeel en aanbevelings daaroor te maak.
“Dit is ’n tipe van agterdeur-privatisering wat aan die gebeur is. Dieselfde het by SAL gebeur en dit gebeur ook nou by die poskantoor en dit is goeie nuus.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.