
Rooibos Bpk., die grootste rooibosteeverwerker in die land, is na ’n ondersoek deur die kompetisiekommissie na die kompetisietribunaal verwys vir vervolging.
Die kommissie het gevind dat Rooibos Bpk. homself skuldig gemaak het aan optrede wat produsente verhoed om met ander verwerkers sake te doen en dus Rooibos Bpk. se kompetisie verhoed het uit te brei.
In ’n verklaring verduidelik die kommissie dat hulle Rooibos Bpk. skuldig bevind het daaraan dat hulle produsente in ’n leweringsooreenkoms vasgevang het deurdat hulle produksie-navorsingsinligting eksklusief vir produsente beskikbaar maak indien hulle ’n ooreengekome volume rooibostee aan Rooibos Bpk. lewer.
“Hierdie uitsluitingskriteria het noemenswaardige volumes rooibostee binne Rooibos Bpk. verseker tot die nadeel van hul teenstanders. Gevolglik het Rooibos Bpk. se aankoopvolumes drasties toegeneem in ’n tyd wat nasionale produksie gedaal het, wat meegebring het dat Rooibos Bpk. se teenstanders se aankoopvolumes afgeneem of stagneer het.
“Die kommissie verlang ’n bevel van die tribunaal dat Rooibos Bpk. 10% van hul jaarlikse omset as ’n boete betaal weens hul oortreding van die kompetisiewet,” lui die verklaring.