Die Mededingingstribunaal het Rooibos Bpk en die Mededingingskommissie na die onderhandelingstafel teruggestuur oor ‘n ooreenkoms rakende mededinging in dié bedryf.
Luidens ‘n verklaring sê die tribunaal die insluiting van ‘n verdediging van doeltreffendheid-klousule verswak die ooreenkoms.
Volgens dié klousule kan tegnologiese, doeltreffendheid- en pro-mededingingvoordele, wanneer dit bewys kan word, die nie-mededingende uitwerking van sakebedrywighede van ‘n onderneming uitkanselleer.
Die twee partye is gevra om die tribunaal se kritiek te oorweeg en die ooreenkoms aan te pas.
Die agtergrond
Volgens die verklaring het Rooibos Bpk dominansie binne die bedryf uitgebuit deur eksklusiewe ooreenkomste met rooibosverpakkers soos National Brands, Coffe Tea and Chocolate Company, Unilever SA en Joekels Tea Packers, aan te gaan. Dit het ander mededingers in die bedryf van ‘n deel van die mark afgesny.
Die kommissie het die saak in 2005 begin ondersoek nadat hy inligting van Coetzee & Coetzee (Edm) Bpk ontvang het. Volgens dié maatskappy, wat rooibostee op grootmaat verwerk en verpak, het hy gesukkel om die mark te betree en uit te brei weens die eksklusiewe ooreenkomste wat Rooibos Bpk aangegaan het.
Ondernemings deur Rooibos Bpk
Rooibos Bpk sal volgens die ooreenkoms nie daarop aandring dat National Brands en/of Unilever SA hulle totale Rooibos voorraad aankoop nie. Die maatskappy het ook ingestem om rooibostee op relevante volumes op afslag aan te bied.
Op grond van die ooreenkoms het die twee partye onderneem dat nie Rooibos Bpk of enige van die respondente ‘n administratiewe boete sal hoef te betaal nie.
9 September 2010