Mnr. Dewald Olivier, hoofbestuurder van Red Meat Industry Services, sê dat die tekort aan veeartse ’n ernstige nadraai vir produksiediere inhou en dat veral staatsveeaartse nie die nodige ondersteuning kry om doeltreffend te funksioneer in gebiede waar hulle die nodigste is nie.
“Die feit is dat daar nie genoeg veeartse is om aan produksiediere aandag te gee nie. Die ekonomiese uitvloeisel hiervan is dat veeartse net sommige mense kan help, want hul dienste word baie duur. Die groot besighede kan dan veeartse bekostig, maar die kleiner ouens, wat hierdie dienste net so nodig het, kan dan nie.”
’n Oplossing sou wees om staatsveeartse te gebruik, maar Olivier sê dat hierdie veeartse deur burokratiese rompslomp gekortwiek word. “Daar is nie hulpbronne vir hierdie veeartse nie. Hoeveel keer sê hulle dat daar byvoorbeeld nie ’n bakkie, buise om bloed te trek of selfs naalde beskikbaar is nie? Ek dink dat dit vir hierdie veeartse baie moeilik is, want hulle wil graag help, maar daar is net nie bystand of ondersteuning nie.”