
Die voerkraalvereniging het hom na die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gewend om hulp nadat die voerkraalprogram verlede September opgeskort sodat die LNR dit in Oktober kon oorneem. Die program is egter sedert Oktober nog nie hervat nie.
Die program word gefinansier deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en die NLBR het tot September bestuur.
Mnr. Mzimkhulu Jikijela, voorsitter van die Oos-Kaapse voerkraalvereniging, het gesê hulle het selfs voorleggings aan me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gedoen, maar niks het daarvan gekom nie. Beloftes is gemaak dat die program in Februarie hervat sou word, later is Maart as datum gegee en toe April, maar niks het nog gebeur nie. Hy het gesê die infrastruktuur is daar, asook die voer en die beeste, maar daar is niemand om die beeste te voer nie.
Mnr. Nopisi Sefatsa, adjunkvoorsitter van die Oos-Kaapse gemeenskapsveevereniging, het gesê die ondersteuning wat hulle van die NLBR gekry het, sluit in die betaling van die werkers by die voerkrale, die bou van infrastruktuur, die vervoer van die diere na veilings en die algemene bemarking van die voerkrale. Hierdie voerkrale is nie kommersieel nie en is gemik daarop om druk van oorbeweiding op die gemeenskapsgronde te verlig. Die doelwit is dar die diere na die voerkrale gebring kan word om afgerond en bemark te word.
Hy het gesê die NLBR het sy bystand opgeskort en nie die voerkrale betyds ingelig daarvan nie. Die organisasie kon daarom nie planne beraam om die voerkrale te kommersialiseer nie. Hulle het heeltyd sonder ’n memorandum van verstandhouding met die NLBR gewerk met geen duidelike mandaat, tydraamwerke of uittreeplanne om die volhoubaarheid van die voerkrale te verseker toe die opskorting plaasgevind het nie.
Hy het aangevoer dat as die voerkrale grond kan kry waar voer aangeplant kan word, sal hulle in ’n posisie wees om kommersieel te produseer.
Vertraging
Dr. Simphiwe Ngqangweni, waarnemende uitvoerende hoof van die NLBR, sê rooivleisontwikkelingsprogram was oor die jare suksesvol en daar was groei ten opsigte van die inkomste wat in die landelike gebiede in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die Noordwes gegenereer is. Prof. Norman Maiwashe, hoofbestuurder van die LNR, sê die LNR is by die skema betrek net voordat die diensleweringsooreenkoms tussen die NLBR en die departement verstryk het.
Dit was kort voor Oktober 2020. Die LNR het in Julie met die NLBR vergader om ’n oorgangsplan te ontwikkel wat tot einde Maart 2021 sou strek. Die departement moes enkele administratiewe kwessies oplos. Daar was ook prosesse wat goedkeuring van die tesourie geverg het.
Met die vertraging is ’n nuwe plan beraam dat die LNR op 1 April 2021 moes oorneem vir die volgende drie jaar, terwyl die NLBR tyd gegun word om stelselmatig uit die projek te tree. Die sleutelaktiwiteit van die plan was dat die bedryfsontwikkelingskomponent van die projek voortgaan om te verseker dat teen die einde van die program die boere die vermoë het om op kommersiële vlak te wees.
Mnr. Mooketsa Ramasodi, waarnemende direkteur-generaal van die departement, sê die planne wat die departement met die LNR het, sluit in ’n uitbreiding van die rooivleisontwikkelingsprogram na alle provinsies en die kern van die plan is om dit volhoubaar te kry. In die landboumeesterplan word aangedui dat die plan is om voerkrale te ontwikkel sodat daar reg oor die land rooivleissones kan wees wat boere sal help om hul vee so gou as moontlik in kontant om te skakel en só aan die ekonomie deelneem.
Syfers
Die rooivleisontwikkelingsprogram was in die 2013-’14-boekjaar in bedryf in die Oos-Kaap met vier voerkrale waarin R4,2 miljoen belê is. Die program het R12 miljoen se inkomste gegenereer en meer as 150 boere is ondersteun.
In die 2014-’15-boekjaar was daar vyf voerkrale waarin altesaam R15,8 miljoen belê is vir infrastruktuur, voer en medisyne, asook die salarisse van die personeel. Altesaam R9,6 miljoen se inkomste vir 250 boere is gegenereer.
In die daaropvolgende boekjaar is die projek ook in KwaZulu-Natal begin. In die twee laasgenoemde provinsies was altesaam 11 voerkrale, en R14,4 miljoen is in infrastruktuur en ander aktiwiteite belê. Meer as 550 boere het voordeel getrek uit die R23,1 miljoen se inkomste wat gegenereer is. Altesaam 2 594 beeste is in die voerkrale gevoer.
In die 2016-’17-boekjaar was daar altesaam 5 560 beeste by die voerkrale en 6 550 is in die boekjaar verkoop. Die belegging was R25,5 miljoen en inkomste van R33,7 miljoen is ingewin vir die meer as 700 boere. Daar was 16 voerkrale.
In dieselfde jaar is die program ook na Noordwes geneem. In die 2017-’18-boekjaar is R9,9 miljoen belê en ’n inkomste van R31,1 miljoen is vir meer as 700 boere gegenereer. Daar was tien veilings en 3 953 beeste is verkoop.
Die 2018-’19-boekjaar was een van die bestes vir die voerkrale. Altesaam 17 voerkrale het deelgeneem en die projekte het R48,7 miljoen vir die 2 250 deelnemende boere gegenereer.
Die NLBR het 28 veilings bemiddel, die meeste daarvan in KwaZulu-Natal.
In die Oos-Kaap is skape ook gevoer en altesaam 563 skape is verkoop. In KwaZulu-Natal is 764 bokke op veilings verkoop.
In die 2019-’20-boekjaar is R19,7 miljoen se inkomste gegenereer vir 1 047 boere wat deelgeneem het aan 11 veilings waar 2 876 beeste, 256 skape en 699 bokke verkoop is. Benewens die 17 voerkrale het die NLBR ook 12 voerprogramme ontwikkel: vyf in die Oos-Kaap, vyf in KwaZulu-Natal en twee in Noordwes.