Drie opeenvolgende dae se reën einde Januarie het rosyntjieboere in die Benede-Oranjerivier bekommerd op en af laat loop omdat die nat toestande op die tyd geval het waarin rosyne droog geoes moet word.
Mnr. Gog van der Colff, eienaar van Carpe Diem Raisins, wat die enigste organiese rosyne in Suid-Afrika verbou, sê hulle het voor die seisoen geweet dit gaan ’n nat jaar wees. Die familiebesigheid verwerk en verpak ook 120 ander produsente se rosyne by ’n aanleg buite Upington waarin KLK Landbou ’n 80%-aandeel het. Dit verteenwoordig sowat 25% van die Suid-Afrikaanse rosyntjiebedryf.
“Die reën in die eerste week in Februarie was egter nie voorspel nie. Dit het ons onkant gevang, want ons het gedink dit gaan sonskynweer wees tot 15 Februarie. Die druiwe verduur nie die soort nat en klam toestande nie. Ons het eers op 3 Februarie begin nugter dink toe die son letterlik en figuurlik weer geskyn het.