
’n Knaagdierplaag bedreig groot dele van die Kalahari. Dié gebied se veeboere vrees dat hulle weer ’n weidingsdroogte gaan beleef as dit nie spoedig reën nie.
Mnr. Deon Hoon, voorsitter van Agri Kuruman, sê die voorkoms van kolonies fluitrotte (Parotomys brantsii) in tot 40% van hul weiveld neem krisisafmetings aan, amper soos ’n sprinkaanplaag. Hoon sê die plaag kom oor ’n wye gebied voor, van Hotazel tot teen die Botswanagrens, asook in die omgewing van Van Zylsrus.
Nóg ’n boer, mnr. Elias Loubscher, sê boere by Olifantshoek stoei ook met dié plaag. Hoon se grondgebied van sowat 7 000 ha op Witstambult is met die rotte besmet. Hy beraam daar is tot 800 neste per hektaar. Die fluitrot woon in sulke groot kolonies in gate en die verniel dan die veld.
“Die rotte het al voorheen in die gebied voorgekom, maar nie so erg nie. Die toestand ná die droogte het eers laat in die seisoen verbeter en ons probeer ons veegetalle nou vermeerder,” sê hy. “Ons sal ongelukkig met dié natuurverskynsel moet saamleef.”
Goeie winter
Een verklaring vir die voorkoms van die rotte is dat goeie reën in die reëntyd vir ’n oormaat voedsame grassade in die volgende winter sorg. Dié grassade is die knaagdiere se basiese dieet. Dit lei dan tot die produksie en oorlewing van groot getalle kleintjies, wat skielik tot ’n bevolkingsontploffing lei.
Hoon sê in die Kgalagadi is dié plaag soms so erg dat ’n mens glad nie in die veld kan ry nie omdat ’n bakkie se wiele heeltyd in die gate vasval. In gebiede in ekologiese balans sal daardie oormaat muise ook tot ’n ontploffing in valke, arende, ratels, jakkalse en slange lei.
“Volgens die natuurkundige Dave Pepler teel die rotte al wanneer hulle 21 dae oud is – vandaar die vinnige vermeerdering. ’n Vinnige boeresom wys dat hulle die seisoen tot 40% van ons gras weggedra het,” sê Hoon.
Inlas: ’n Fluitrot. FOTO’S: VERSKAF