
Die Wes-Kaapse departement van landbou is 'n Kuhn Neo-skyfplanter ryker. Terwyl die planter voorheen by die werktuigvervaardiger Rovic Leers geleen is, het dié maatskappy dit nou aan die departement geskenk vir doeleindes van navorsing.
Die planter sal die departement in staat stel om voort te bou op die navorsing van hoë gehalte wat plaaslik gedoen word, sê dr. Johann Strauss, wetenskaplike vir volhoubare gewasverbouingstelsels en bewaringslandbou in die direktoraat plantwetenskap by die Wes-Kaapse departement van landbou.
Navorsing vir bewaringsboerdery
Strauss is tans besig met die derde stel proewe in 'n 12 jaar-tydperk oor verskillende plant- en boerderytegnieke vir bewaringsboerdery. Dit behels wisselbouproewe met 'n veefaktor. Hy het drie jaar gelede die gebruik van ’n skyfplanter as voorwaarde vir die voortsetting van die proef gestel.
Talle kleingraanboere in die winterreëngebied gebruik tandplanters, al meen kenners hulle kan die voordele van bewaringsboerdery gouer ervaar as hulle skyfplanters sou gebruik. Strauss sê dit is ongelooflik om te sien hoe doeltreffend die Kuhn in die klip-lande werk. “Ons hele wisselbouproef op Riversdal word daarmee geplant,” sê hy.
Strauss sê die departement se doel is om navorsing te doen en sodoende voor boere te wees sodat hulle die boere kan raad gee oor hul boerdery.
Planter is aanwins“Die planter help ons dus regtig baie,” sê Strauss. “Ons het ons nog altyd op die gehalte van ons navorsing en die tersaaklikheid daarvan geroem en dié skenking help ons om dit op daardie vlak te hou.”
Rovic Leers het oorspronklik 'n ooreenkoms met die departement gehad om 15 jaar lank 'n Kuhn-skyfplanter vir proewe beskikbaar te stel. Intussen is besluit om die planter aan die departement te skenk. Die doelwit is om die planter nog vir 12 jaar lank op Riversdal en verskeie ander proefplase te gebruik.
Die grootste voordeel van 'n skyfplanter is dat dit makliker kalibreer as die ou tandplanters en die saad- en kunsmisbakke so maklik skoongemaak kan word. Dit verg dus minder tyd om gewasse en kunsmis om te ruil. Maar seker die grootste voordeel is dat die skyfplanter deur ’n groot hoeveelheid materiaal kan plant.
Rovic LeersMnr. Marius Ras, hoof van bemarking by Rovic Leers, het op die oorhandigingseremonie gesê sy maatskappy is verbind tot ondersteuning aan die boeregemeenskap met onder meer sy integrale betrokkenheid by onafhanklike navorsing oor doeltreffender boerderytegnieke.
Rovic Leers het in 'n verklaring die Wes-Kaapse departement van landbou bedank vir die bydrae tot voedselproduksie en -sekerheid wat deur sy navorsing gemaak word.
Mnr. Dewald van Dyk, takbestuurder van Rovic Leers in Kaapstad, sê die deursnee van die skywe wat in die proewe gebruik word, is 14 duim (355 cm). Dit is 'n 13-ry-planter wat 2,21 m wyd werk – dalk te smal vir 'n boer wat honderde hektare moet plant, maar ideaal vir die departement se proewe.
Van Dyk sê die 13-ry-planter se kleinhandelsprys is R629 050 (sonder BTW) en die wyer modelle is duurder. In die Neo-reeks is ook planters met 11, 15, 17, 19 en 21 rye skywe beskikbaar. In die Kuhn SDE-reeks is skyfplanters wat tot 4,5 m wyd werk en 27 rye skywe het, beskikbaar. Die standaardafstand tussen die skywe is 170 mm.
Byskrif: Rovic Leers het 'n Kuhn Neo-skyfplanter vir geenbewerking aan die Wes-Kaapse departement van landbou geskenk. Op die seremonie is, van links, mnr. Dewald van Dyk, bestuurder van Rovic Leers se tak in Kaapstad, me. Annelene Swanepoel, hoof van plantwetenskappe by die Wes-Kaapse departement van landbou, dr. Johann Strauss, dr. Ilze Trautman, hoof van navorsing en tegnologie-ontwikkeling by die departement, mnr. Jackie Jordaan, hoof van die departement se proefplase, en mnr. Marius Ras, bemarkingsdirekteur van Rovic Leers. Foto: Anton Alberts