
Rowers het Dinsdagaand (27 Desember) op ’n wildplaas langs die Tshipise-pad toegeslaan, die vrou van die plaaseienaar aangerand en aangedring op geld en ander waardevolle artikels. Volgens ’n polisie-verklaring het sowat vyf gewapende aanvallers omstreeks 21:15 op die plaas aangekom.
Nadat hulle die vrou aangerand het, het hulle 11 vuurwapens, ’n onbekende bedrag kontant in rande, Amerikaanse dollar en ponde, sowel as skootrekenaars en ’n selfoon uit twee kluise geroof en in die plaaseienaar se Toyota Land Cruiser gevlug.
Die voertuig se registrasie is DHG 739 L.
Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisie-kommissaris, het beslis dat ’n spesiale span saamgestel moet word om die verdagtes aan te keer.
“Die span sal dag en nag werk om die verdagtes op te spoor en ons versoek lede van die gemeenskap om die polisie te help met enige inligting wat van waarde kan wees en tot die inhegtenisname van die verdagtes kan lei,” het sy gesê.
Die verdagtes het glo Venda gepraat en was geklee in blou werkspakke met wit op die rugkant. Die ondersoekspan staan onder leiding van die provinsiale moord- en roofeenheid.
Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het gesê die taakspan is besig met sy ondersoek en nog niemand is in hegtenis geneem nie.
Enigiemand met inligting kan lt.kol. Richard Boshomane by 084 322 1341 of adj.off. Phaladi Makola by 071 601 5174 kontak. Die algemene stop misdaadnommer kan ook geskakel word by 0860010111.