Die bekende Rupert-familie wil glo sy belange in die Franschhoekse wynbedryf uitbrei en sy visier is op een van Graham Beck Wyne se plase gemik.
Mnr. Etienne Heyns, bemarking- en verkoopbestuurder van Graham Beck Wyne, het aan Landbou.com gesê gesprekke is met mnr. Johann Rupert aan die gang oor Rupert se belangstelling om dalk die Franschhoek-landgoed te koop. Geen ooreenkoms is egter nog beklink nie.
Graham Beck Wyne is op twee plase geleë – die een in Franschhoek en Madeba in Robertson. Die familie-patriarg en mynmagnaat, mnr. Graham Beck is verlede jaar oorlede. Hy het Madeba in 1983 gekoop en sedertdien is Graham Beck Wyne as ‘n wêreldklas-wynprodusent gevestig. Die vonkelwyn Graham Beck NV is onder meer tydens die viering van pres. Barack Obama se verkiesing as Amerikaanse president in 2009 bedien.
Die Rupert-familie besit drie ander wynplase in die Franschhoek-omgewing. L’Ormarins behoort aan Rupert en La Motte aan sy suster me. Hanneli Rupert-Koegelenberg. Hulle is gesamentlik eienaars van Fredericksburg, die huis van Rupert&Rothchild-wyne.
Lees meer hieroor in die volgende uitgawe van Landbouweekblad.
5 Januarie 2011