
Die verwagting bestaan dat Suid-Afrika se brandstofpryse in Maart met R1,20 tot R1,30 per liter gaan styg na aanleiding van die onderverhalingspryse wat vroeër die maand aan die media uitgelek het.
Nadat Rusland Oekraïne vroeër vandeesweek binnegeval het, het die prys van ’n vat ruolie tot $102 gestyg. Mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, sê omdat dié drastiese styging voorgekom het kort voor die tydperk waarvolgens brandstofpryse vir Maart bepaal word, verwag hy nie uitermatig drastiese stygings in Maart nie.
“Die vraag bly egter wat in April en verder aan gaan gebeur. Gaan die situasie tussen Rusland en Oekraïne kortstondig wees of uitgerek?”
Maree sê as die situasie uitgerek is, kan brandstofpryse later vanjaar potensieel op sowat R25 tot R26 per liter te staan kom. “As die situasie nie uitgerek is nie, kan die wisselkoers versterk tot rondom R15/$ of dalk onder R15/$, en die internasionale olieprys kan terugsak tot rondom $90/vat, en dan is ons weer op die vlak waar ons nou is.”
Kunsmis en graanpryse
Maree sê na gelang van hoe lank die situasie gaan voortduur, gaan die pryse van mielies, koring en sojabone ook beïnvloed word, wat die pryse van produkte wat uit die grane geproduseer word, sal laat styg. “Dit beteken dat die prys per ton vir boere ook gaan styg. Boere moet hierdie situasie benut. Dit kan ook voordelig wees vir uitvoermarkte, hoewel logistiek en vervoer ’n groot probleem vir boere kan wees.”
Maree verwag dat die prys van kunsmis kan toeneem, maar weer eens sal die impak van so styging bepaal word deur hoe lank die situasie voortduur.
Maree sê teoreties gesien, sou die twee lande ’n volskaalse oorlog begin voer, gaan die kunsmis wat hulle vir die produksie van grane sou gebruik het, in die internasionale stelsel beskikbaar wees wat ’n meer gunstige vraag-en-aanbodsituasie tot gevolg sal hê. “Die keersy is dat dit wat hulle sou produseer, nie geproduseer gaan word nie en dan gaan daardie pryse weer styg.”