
Die
besluit het hy reeds in September al oorweeg.
Op ’n aanlyn mediakonferensie waar De Ruyter, mnr. Mpho Makwana, voorsitter van Eskom, en mnr. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, teenwoordig was, het De Ruyter gesê hy het besluit om uit te tree en om vir die Eskom-direksie die geleentheid te gee om “iemand aan te stel wat beter toegerus is om al die strategiese kwessies van Eskom aan te durf”.
Eskom het Woensdagaand De Ruyter se bedanking bekend gemaak, maar gesê hy sal tot 31 Maart aan die stuur van sake bly.
“Ek is teleurgesteld dat ek nie al my doelwitte kon bereik nie, maar dit was vir my ’n enorme eer om deel te kon wees van ’n organisasie wat so belangrik is soos Eskom.”
De Ruyter het gesê hy het nie bedank omdat hy ’n ander werksgeleentheid gekry het nie, maar omdat hy die organisasie wil toelaat om verder sy stryd teen beurtkrag te voer en om Suid-Afrika te neem na ’n land wat energie op ’n meer volhoubare maniere aanwend.
“Ek gaan nou tyd saam met my familie deurbring; hulle het my die afgelope drie jaar baie min gesien.”
Makwana, wat einde September as Eskom se voorsitter aangestel is, het gesê De Ruyter het op sy eerste dag vir hom ’n aanduiding gegee dat hy sy opsies heroorweeg.
“De Ruyter het Maandag om 07:13 sy bedankingsbrief ingedien. Ongelukkig het die vertroulike inligting uitgelek en ons moes ’n verklaring uitreik.”
Hy het die versekering gegee Eskom gaan so gou moontlik al die ingenieursposte by Eskom vul met “die bestes van die bestes.”
“Ons moet Eskom gereed kry vir die toekoms. Dit behels dat ons die ligte moet aanhou.”
Gordhan het gesê vandag is ’n belangrike mylpaal in die geskiedenis van Eskom, maar beslis nie ’n goeie een met die uittrede van De Ruyter nie.
Hy het gesê die verdeling van Eskom in drie dele – opwekking, transmissie en verspreiding – gaan voort. Hy het toegegee daar is nog min gedoen aan die lopende tekort aan opwekkingsvermoë van 4 000 MW tot 6 000 MW wat De Ruyter vroeg reeds in sy termyn uitgewys het. “Ons moet weer daarop konsentreer.”
Gordhan het gesê dit is goed dat De Ruyter erken hy het nie sy doelwitte ten volle bereik nie en dat dit ’n teken van “nederigheid” is.
In antwoord op ’n vraag van ’n joernalis het Makwana gesê die nuwe 70%-teiken vir die energiebeskikbaarheidsfaktor (EBF) van Eskom se vloot kragsentrales is realisties, al is die huidige EBF slegs 51%.
Op die vraag of De Ruyter as ’n “verraaier” beskou word, het Makwana gesê hy is nie in die posisie om die vraag te beantwoord nie en het dit na Gordhan verwys.
Daarop het Gordhan gesê: “De Ruyter is absoluut nie ’n verraaier nie. Daar is geen gronde vir die bewering dat Eskom probeer om die regering omver te werp nie, veral nie deur ’n man wat sy absolute bes probeer het nie.”
Mnr. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het vroeër Eskom se bestuur daarvan beskuldig dat hulle die regering wil omver wil werp deur nie beurtkrag op te los nie.
Ná die uitlating was daar geen openlike steun aan De Ruyter van pres. Cyril Ramaphosa of Gordhan nie.
Teen die einde van die konferensie het Gordhan gesê niemand moet bang wees vir Mantashe nie. En dat almal, self ministers, gefrustreerd is met beurtkrag.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.