
Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het vroeër vandeesweek aangekondig dat ’n memorandum van verstandhouding oor landbou, visserye en akwakultuur met Saoedi-Arabië op 15 Oktober onderteken is.
Mnr. Louw van Reenen, uitvoerende hoof van die Beefmaster-groep, sê die ooreenkoms sal na verwagting daartoe lei dat Saoedi-Arabië van 500 ton tot 1 000 ton beesvleis per jaar bestel, wat dié land die grootste uitvoermark vir Suid-Afrikaanse beesvleis sal maak.
Volgens hom is die aankondiging broodnodige goeie nuus vir die plaaslike rooivleisbedryf gegewe die verskeie struikelblokke wat die bedryf vanjaar moes oorkom weens uitbrekings van bek-en-klouseer en die onseker ekonomiese klimaat.
‘Opgewonde’
“Ons is opgewonde oor die ooreenkoms. Dit kon nie op ’n beter tyd gekom het nie. Buiten vir ’n nuwe handelsroete wat ontsluit is, sal dit ons ook help om werksekerheid in die bedryf gedurende die volgende jaar te handhaaf.”
Daar is egter volgens hom nog werk gedoen moet word voor die twee lande amptelik kan begin handel dryf. Saoedi-Arabië se voedsel-en-medisyne-owerheid (SFDA) sal Suid-Afrika voor die einde van die jaar besoek om te verseker dat plaaslike produkte aan hul streng spesifikasies voldoen.
Sommige Suid-Afrikaanse produkte is reeds in Saoedi-Arabië beskikbaar. Omdat dié land ’n waterskaars land is, skep dit ’n gulde geleentheid vir Suid-Afrikaanse voedselprodusente om hul vars produkte daarheen uit te voer. Verlede jaar is handel ter waarde van R66 miljard met Saoedi-Arabië gedryf.
Beïndruk met gehalte
Volgens Van Reenen is Saoedie-Arabië beïndruk met die gehalte van Suid-Afrikaanse beesvleisprodukte. “Ons kan ’n gehalteproduk bied wat bekostigbaar is en ’n kleiner vetinhoud het. Hierdie eienskappe is juis waarom ons goed meeding met ander beesvleislande soos Australië en Amerika.”
Volgens die Rooivleisprodusente-organisasie se syfers word 4% van Suid-Afrika se beesvleis uitgevoer. Die rooivleisbedryf het goeie vordering met toegang tot nuwe uitvoermarkte gemaak en daar is veral groot vraag daarna in die Verre en Midde-Ooste. Die Beefmaster-groep voer reeds produkte uit na onder meer die Verenigde Arabiese Emirate, Koeweit en Katar.
Van Reenen sê die geleentheid wat uitvoermarkte bied, word duidelik gestel in die landboumeesterplan en dat dié plan strook met die rooivleisbedryf se strategiese benadering tot 2030. “Dit beteken dat ons nou die nodige stappe moet doen om toegang tot uitvoermarkte te kry en die geleenthede in die plan aan te gryp.”
As alles volgens plan verloop, sal die rooivleisbedryf na verwagting teen 2030 meer as R12 miljard tot die landbousektor se bruto binnelande produk bydra en 3 200 werksgeleenthede skep.