
Die toepassing Eskom se Push, wat talle Suid-Afrikaners gebruik om seker te maak hulle weet op watter vlak van beurtkrag Suid-Afrika is, bereken Suid-Afrika het tot einde November vanjaar 192 720 minute beurtkrag beleef, waarvan die meeste in November aangeteken is.
Dié syfer verteenwoordig volgens die toepassing ’n 200%-styging vergeleke “met enige ander jaar”. Gegrond op dié statistieke het Suid-Afrika vanjaar reeds 3 212 uur beurtkrag gehad, wat meer as 133 dae verteenwoordig.
Loadshedding 2022 Wrapped! ?? pic.twitter.com/jqIdiG5hxr
— EskomSePush (ESP) (@EskomSePush) December 7, 2022
Volgens Business Day het Eskom vandeesweek amper die helfte (47%) van sy kragnetwerk se kapasiteit verloor. Die nuutste kragonderbrekings kan beteken sommige verbruikers sal tot 10 uur per dag sonder krag wees en beteken die ekonomie verloor R3 miljard per dag.
Onbeplande onderbrekings by van Eskom se kragsentrales is van die redes vir die skielike verhoging van beurtkrag, luidens ’n verklaring wat Eskom uitgereik het.
Dit is vanjaar die vierde keer dat vlak 6-beurtkrag ingestel word. Die vorige keer dat vlak 6 ingestel is, was in September toe Eskom 45% van sy kapasiteit verloor het.
Koeberg se eenheid 1 moes vanoggend afgeskakel word vir broodnodige instandhouding, maar Eskom het vroeg Donderdagmiddag aangekondig dié eenheid sal waarskynlik eers Saterdag afgeskakel word as deel van die kragverskaffer se pogings om verhoogde beurtkrag-fases te voorkom.
Eskom verwag die instandhouding van Koeberg se eenheid 1 kan tot ses maande duur. Sonder dié eenheid wat krag aan die netwerk kan verskaf, is ongeveer 920 MW verlore. Daarna kom eenheid 2 aan die beurt, wat vir dieselfde tydperk ook nie 920 MW aan die kragnetwerk sal kan verskaf nie.
Volgens Eskom se verklaring is Koeberg een van die Eskom se belangrike eenhede in sy vloot van opwekkingseenhede aangesien daar op die kernkragsentrale se betroubare bedrywighede staatgemaak kan word. "Dit het ook ‘n lae primêre energiekoste," luidens die verklaring. Elk van Koeberg se twee eenhede moet tussen15 tot 18 maande hervul word, maar die eenheid kan nie soos ander kragsentrales ten tye van die hervulling steeds in bedryf wees nie.
Fase 6 sal nou voorlopig tot Vrydagoggend duur, waarna fase 5 na verwagting ingestel sal word.
Suid-Afrika se hoogste vlak van beurtkrag is fase 8 en Eskom het vroeër vandeesweek in die media laat blyk daar is ’n moontlikheid dat die land onder fase 8 gebuk kan gaan.
‘Kry SA onmiddellik uit vlak 6’
Intussen sê mnr. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, hy het Eskom se bestuur en raad gister tydens ’n vergadering opdrag gegee om die land onmiddellik uit vlak 6-beurtkrag te kry.
“Kragonderbrekings het ’n verwoestende impak op huishoudings en inkomste, investering en die ekonomiese klimaat. Die frekwensie van kragonderbrekings kan beslis aan disfunksionele elemente binne Eskom se stelsels en ook moontlik sabotasie toegeskryf word.
“Ons moes al wetstoepassers versoek om ’n sterker teenwoordigheid by Eskom se kragsentrales te handhaaf. Diegene wat by afskuwelike aktiwiteite betrokke is, pas op. Ons sal geen aktiwiteite wat nie in die nasionale belang is, verdra nie.
“Ons vra die land om verskoning oor die impak en onderbrekings wat beurtkrag veroorsaak en sal die nasie op hoogte hou oor die kragsituasie.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.