
Ná verskeie berigte verlede jaar op Landbou.com verskyn het waarvolgens sommige boere nie in die 2011 Statistiek SA sensusopname getel is nie, is die resultate van die sensus Dinsdag (30 Oktober 2012) bekend gemaak.
Volgens die statistiek bestaan die land se bevolking tans uit 51 770 560 mense. Dít verteenwoordig ’n styging van 7 miljoen tussen die sensusopnames van 2001 en dié van verlede jaar.
Volgens die sensus is die bevolking jonk met die grootste deel 39 jaar en jonger. Die grootste ouderdomsgroep, sowat 10,9 miljoen mense, is jonger as vyf jaar oud. Die naasgrootste ouderdomsdemografie val tussen 20 jaar en 24 jaar, met sowat 10,4 miljoen mense.
’n Afskrif van die verslag is by die berig aangeheg.
Geloofwaardig
Teen die agtergrond van die klagtes, sê Agri SA sowel as die TLU SA hulle meen die statistiek is geloofwaardig. Genl.maj. Chris van Zyl, assistent-hoofbestuurder van beleidskakeling by die TLU SA, sê sover hy die verslag verstaan, is tussen 10% en 14% van die bevolking nie getel nie. “Maar ek aanvaar dit is statisties verreken in die resultate.”
Van Zyl sê dit is interessant om in die resultate te sien hoe die verskuiwing van mense tussen provinsies plaasgevind het. Die Oos-Kaap se bevolking het aansienlik kleiner geword, met die Wes-Kaap wat ’n redelike toename aangeteken het. Volgens hom bepaal die verslag dat die meeste nie-burgers in Gauteng, Noordwes en die Wes-Kaap voorkom.
Voorafbeplanning
Mnr. Hans van der Merwe, hoof uitvoerende beampte van Agri SA, sê hulle het na die beste van hul vermoë met Statistiek SA saamgewerk om toegang tot plase te bewerkstellig en hy het nie van boere gehoor wat nie getel is nie.
“Maar dit is altyd waar dat ’n klompie mense nie getel word nie, en daarvoor is daar modelle om dié syfer by die finale syfer in te reken,” vertel Van der Merwe. Hy sê dit is aanvaarde praktyk dat daar nie by almal uitgekom sal word nie, maar metodiek bestaan om deur middel van ’n betroubare model by ’n geloofwaardige syfer uit te kom.
Van der Merwe sê wat kommersiële landbougebiede betref, is daar nie ’n groter afwyking aangeteken as wat normaal vir landelike gebiede is nie.