Suid-Afrikaanse boere is al in 24 Afrikalande op aanvraag, met Tanzanië wat die jongste toevoeging is, aldus Agri SA.
Dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van die organisasie, sê dié land het die Afrikakomitee aan die einde van verlede jaar gekontak.
“Intussen het versoeke van Gabon en Ghana begin toeneem. Gabon bel omtrent elke dag om te vra dat ons besoek daar moet aflê, en Ghana het ons nou al deur drie verskillende kanale gekontak. Eers het hulle ons direk gekontak, toe het hulle ons deur middel van Agrifica en daarna via die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gekontak,” vertel De Jager.
Bilaterale ooreenkomste
De Jager sê hulle moet egter besoeke en moontlike samewerkingsooreenkomste op grond van bilaterale ooreenkomste tussen ander Afrikalande en Suid-Afrika oorweeg. Dit is hoekom dit soms lank neem om ‘n land te gaan besoek.
Agri SA en belangstellende boere se beplande besoek aan die Kongo vroeg vanjaar gaan moontlik in Maart plaasvind.
De Jager sê ‘n groep boere se besoek is reeds vasgestel, maar Agri SA se amptelike besoek sal plaasvind wanneer die Afrikakomitee heeltemal gemaklik is met die ooreenkoms wat die Kongolese Regering aanbied.
Wat bied Ghana en Gabon?
Intussen sê De Jager die Ghanese regering oorweeg ‘n “turn key”-aanbod vir Suid-Afrikaanse boere. Dit beteken dat hulle vir die boere sal grond gee vir ‘n sekere periode, en die nodige implemente en masjienerie sal ook voorsien word.
Ghana wil graag hulle bestaande markte, wat sojabone en suiker insluit, vergroot. “Hulle gaan nie spesifieke voorkeure vir produkte hê nie, hoewel hulle graag dié markte wil uitbrei,” vertel De Jager.
Gabon wil fokus op hulle reeds bestaande kakao- en klapperafsetmarkte, terwyl hulle hulle rooivleismark en beesbasters wil verbeter. “Hulle wil ook fokus op afsette wat hulle nog nie het nie, soos bio-brandstof,” sê De Jager.
10 Februarie 2011