
Die uitslag van die 2017 Internasionale Eiendomsreg-indeks (IPRI) is op 11 Julie in Buenos Airies bekend gemaak. Dié jaarlikse indeks het vanjaar 127 lande ingesluit en daardeur is 98% van die wêreld se Bruto Binnelandse Produk (BBP) en 93% van die wêreldbevolking betrek. Die enigste lande wat uitgesluit is, is lande waaroor nie voldoende inligting beskikbaar was nie (waarvan Swaziland een was).
Dr. Sary Levy-Carciente, ’n ekonoom van Venzuela en hoof-samesteller van die indeks namens die Eiendomsregte-alliansie (PRA), sê die indeks is ’n barometer om die status van eiendomsregte wêreldwyd te meet. Dit bestaan uit drie onderafdelings: die wetlike en politieke omgewing (LP) in ’n land, die stand van fisiese eindomsregte (PPR) en intellektuele eiendomsreg (IPR).
Ván die aspekte waarna spesifiek gekyk word, sluit in die onafkanklikheid van die regsbank, politieke stabiliteit, beheer van korrupsie, die registrasier van eiendom, beskikbaarheid van lenings, die beskerming van patente en die skending van kopiereg.
SA in top 40%
Vanjaar se wêreldgemiddeld was 5,63 vir die oorhoofse indeks, wat 0,19 hoër as verlede jaar was. Die politieke en wetlike omgewing het, soos in die vorige twee jaar ook, vanjaar die slegste gevaar met ’n telling van 5,17, gevolg deur intellektuele eiendomsreg met 5,55 en fisiese eiendomsreg met 6,22.
Vergeleke met die wêreldgemiddeld was Suid-Afrika se oorhoofse telling 7,00. Vir die politieke en wetlike omgewing was dit 5,71, vir intellektuele eiendomsreg 7,45 en vir fisiese eiendomsreg 7,83. As deel van die indeks as al 127 lande in vyf groepe ingedeel, van die top 20% tot die 20% wat die slegste gevaar het.
Suid-Afrika was in die groep langs die top 20%. In dié groep was België bo-aan, gevolg deur Hong Kong, Ysland,Verenigde Arabiese Emirate, Quatar, Frankryk, Taiwan, Estonia, Suid-Afrika, Israel, Chile, Malta, Tsjeggiese Republiek, Potugal, Maleisië, Rwanda, Suid-Korea, Spanje, Uruguay en Slovakië.
Nieu-Seeland het Finland verbygesteek om heel bo-aan in die wêreld te eindig, gevolg deur Swede, Switzerland en Noorweë. Die lande wat die heel slegste gevaar het, was Jemen, Venezuela, Bolivië, Bangladesh en Moldawië.