Suid-Afrikaanse en Argentynse gewas- en bateversekeringsmaatskappye het vergader om idees uit te ruil, sê Santam Landbou.
Luidens ‘n verklaring lê die kern van dié uitruilingsooreenkoms tussen Santam Landbou en Argentinië se Sancor Seguros-groep.
Santam Landbou het afgevaardigdes van van dié groep onlangs op Mooihoek, sy eksperimentele plaas naby Bloemfontein, onthaal. Die plaas is uniek want dit is die enigste plaas in die land wat gewasse se vatbaarheid vir skade tydens verskeie vlakke van die groeifase ondersoek. Dit word tans ook deur navorsers van Suid-Amerika gebruik.
Mooihoek beslaan sowat 8,8 ha en die plaas is identies aan ‘n werkende plaas om te verseker die resultate wat daar verkry word, is akkuraat.
Veranderende weerpatrone
Mnr. Schalk Schultz, bestuurder van sake-ontwikkeling by Santam Landbou, sê die veranderende weerpatrone wat tans voorkom kan ‘n ernstige uitwerking op boere se lewensonderhoud hê, asook op voedselsekerheid as ‘n geheel.
“Dit is baie belangrik vir versekeraars om indiepte kennis van die risiko’s wat boere in die gesig staar te hê sodat hulle in staat is om boere te help om daarvoor voor te berei en dit te oorkom,” sê Schultz.
Dr. Tobias Doyer, hoof van Santam Landbou, sê groot ooreenkomste bestaan tussen Suid-Afrika en Argentinië se markte, hoewel Argentinië se markte op ‘n groter skaal funksioneer – derhalwe is dit voordelig om idees met hulle uit te ruil.
“Ons het baie by die Argentyne geleer in terme van stelsels, prosesse en prosedures en ons kon met hulle die vooruitstrewende tegniese landbougeleenthede wat ons in Suid-Afrika het, deel,” verduidelik Doyer.
3 Desember 2010