Suid-Afrika se koring-oes moet met meer as 30% groei vir die land om selfvoorsienend te wees, sê Graan SA.
Mnr. Andries Theron, vooorsitter van die Wintergraan-werkgroep, sê die bedryf moet dringend aandag kry as dit omgekeer moet word om 85%-selfvoorsienend te wees.
Theron sê om dié verhoging te bewerkstellig, sal meer koring op dieselfde oppervlak as waarop dit tans verbou word, geproduseer moet word.
Plaaslike produksie voldoen die afgelope paar jaar aan sowat 50% van die land se vraag na koring.
GM
Theron meen dat koringproduksie nog vir ’n tyd lank ’n uitdaging gaan bly. “Ons kort in die koringbedryf wat geneties gemodifiseerde (GM) mielies vir die mieliebedryf gedoen het.”
Lede van die werkgroep het tydens die organisasie se jaarlikse kongres aangedui dat hulle baie ontevrede is met die pryse wat hulle vir hoëgehalte-koring kry.
Mnr. Dissie Kruger sê dit is erg frustrerend as ’n boer sy B1-koring aanbied, maar teen ’n B3- of B4-gehalte vergoed word. “En as jy dan vra waar is jou B3 of B4, dan is dit weg. Dan is dit opgegradeer.”
Theron sê nuwe kultivars is ook dringend nodig, nie net om meer te produseer nie. “Die Wes-Kaap spesifiek kort ’n voerkoring, daar is ’n vraag daarna en dit kan die bedryf help.”
Nóg ’n oplossing wat Theron voorstel, is dat “ons by ’n prys van R3 000/ton moet kom om produksie in Suid-Afrika te stimuleer.”
Die werkgroep het onderneem om verskeie opsies en voorstelle oor gradering, gehaltebepaling en ’n fokus op eindverbruikers te ondersoek.
8 Maart 2012