
Vanjaar se winter sal deur baie mense onthou word as die eerste jaar wat sneeu op dieselfde dag in al nege provinsies geval het.
Mnr. Kobus Botha, klimatoloog van Kobus Botha Weather, sê “in menseheugenis en volgens al die aangetekende data wat ons het, is so ’n gebeurtenis nog nooit vantevore aangeteken nie.”
Botha sê nóg ’n uitsonderlike gebeurtenis wat op dié dag (7 Augustus) plaasgevind het, is dat ’n nuwe MSG-3-weersatelliet, die Eumetsat, wat twee maande tevore die lug ingestuur is, begin foto’s neem het. “En interessant genoeg die eerste satellietfoto wat dit om 12:15 op dié dag geneem het, was ’n foto van die sneeu wat regoor die land geval het.”
Koudste in jare
Mnr. Johan van der Berg, klimatoloog verbonde aan Santam Agri, sê hierdie winter is een van die koudstes wat die land in jare beleef het. Hy sê koue dagtemperature en vogtige toestande het die seisoen gekenmerk.
Gedurende vorige winters was die dagtemperature warm, terwyl dit in die nagte kouer geword het. “Vanjaar het frontale stelsels so gereeld deur die land beweeg dat die dagtemperature ook koud was. Daar was al om die derde of vyfde dag ’n koue front. Die gereelde sneeuneerslae was ook ’n aanduiding dat toestande vogtig was,” verduidelik Van der Berg.
Hy sê die sneeuneerslae het die grondvogvlakke oor groot dele van die land verbeter. “Sneeu het ’n bevoordeel grondvog, want soos wat dit stadig smelt, sak die water stadig in die grond in.”