
Al is die valskodlingmot nog nie ’n kwarantynplaag in Europa nie, is Suid-Afrikaanse sitruskwekers voorbereid op beoogde wetgewing van die Europese Unie (EU) om die bestuur van hierdie insek vanaf 2018 te reguleer.
Mnr. Deon Joubert, spesiale gesant vir marktoegang en EUsake by die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging, sê die vereniging, die Sitrusnavorsingsinstituut, die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die personeel van verskeie Suid-Afrikaanse ambassades in Europa het nou met die EU saamgewerk om ’n werkbare voorstel vir die bestuur van valskodlingmot daar te stel.
Die teks in die voorstel wat aan die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) voorgelê is, verwys byvoorbeeld na “koue behandeling of enige ander doeltreffende maatreël” vir die bekamping van dié insek in sitrusbesendings. Joubert verwag dat hierdie voorstel se teks as wetgewing aanvaar sal word wanneer die WHO se kennisgewingsproses in dié verband op 13 April eindig.
Inspeksies
Die regulasies sal egter nie op Suid-Afrika se 2017-sitrusbesendings na Europa van toepassing wees nie en Joubert doen ’n beroep op boere om hulle nie te steur aan gerugte oor verpligte koue behandeling vir vanjaar se oes nie. Hy wys daarop dat EU-lidlande wel kan besluit om besendings wat besmet is, weg te wys.
“Dit is dus belangrik om vanjaar te gebruik om maatreëls in te stel en ons vermoë te toets ten einde waarnemings van lewende valskodlingmot tydens EUgrensinspeksies tot die minimum te beperk.”
Joubert sê Suid-Afrikaanse sitruskwekers is gereed om nuwe vereistes rakende valskodlingmot die hoof te bied. Die Sitrusnavorsingsinstituut het lankal wetenskaplike, doeltreffende bestuurstelsels ontwikkel met die verwagting van só ’n stap deur die EU.
’n Valskodlingmotwerkgroep sal eersdaags gestig word om die instituut se bestuurstelsels te help verfyn. Daar is ook reeds protokolle ontwikkel vir die verskillende bestuurstelsels vir die mot wat die verskillende produksiestreke van Suid-Afrika sal vereis.
Joubert en lede van kwekersvereniging sal in die komende weke met Europese belanghebbendes vergader om duidelikheid te kry oor die huidige programme en stelsels en hul vereistes sodat Suid-Afrika se sitruskwekers kan aanhou om Europa van veilige, goeie sitrus te voorsien.