
Dit is een van die produkte waarna die meeste vinger gewys word ten opsigte van die grootste uitbreking van listeriose in die geskiedenis in Suid-Afrika.
Dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, het by die Parlement gesê dit het nou duidelik geword dat die land dringend standaarde vir verwerkte vleis moet opstel.
Davies se departement was saam met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Departement van Gesondheid verteenwoordig in ’n gesamentlike portefeuljekomitee rakende die listeriose-uitbreking.
Altesame 189 mense het al weens listeriose gesterf, twee maatskappye is aan die uitbreking verbind en verwerkte vleisprodukte is aan kettingwinkels onttrek.
Die plan wat die Regering in die tussentyd voorstel, is dat die fabrieke wat weens die uitbreking toegemaak moes word, deeglik skoongemaak moet word om te verseker dat die siekteveroorsakende bakterieë daar vernietig word.
Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, het egter daarop gewys dat tussentydse standaarde onmiddellik opgestel en afgekondig moet word sodat vleisverwerkers kan weet tot watter mate hul fabrieke skoongemaak moet word, aangesien daar geen standaarde daarvoor bestaan nie. “Daar moet ten minste tussentydse standaarde wees as ons nie die regulasies van die Europese Unie gebruik nie. Iets moet ingestel word. Jy kan nie net aan fabrieke sê: ‘Maak skoon tot zero nie.’ ”
Gevaarligte
Boonop het die Landbounavorsingsraad (LNR) parlementslede verlede week laat regop sit deur uit te wys dat Suid-Afrika in werklikheid ’n groot voedselveiligheidsprobleem het en dat listeriose net die ore van die seekoei is.
Dr. Andrew Magadlela, groep- uitvoerende hoof vir dierewetenskap by die LNR, het gewaarsku dat ander voedseloordraagbare mikro-organisames enige tyd kan toeslaan.
Die LNR het van 2014 tot 2016 navorsing gedoen oor patogene organismes wat in kos voorkom.
Meer as 2 000 monsters van vleis en vleisprodukte is in al die provinsies en by invoerpunte versamel. Hulle is vir die listeria-bakterieë en ander voedseloordraagbare siektes getoets. Die bakterieë kom in alle provinsies voor. “Die punt wat ons wil maak, is dat Suid-Afrika as ’n land ’n groot probleem kan hê. Ons moet saamwerk sodat ons ons kos veilig kan hou,” het Magadlela gesê.
Verliese
Suid-Afrika kan verliese van honderde miljoene rande aan die uitvoer van verwerkte vleisprodukte ly, het me. Niki Kruger, hoofdirekteur vir handelsonderhandeling by die Departement van Handel en Nywerheid, gesê. Die land het in die afgelope twee jaar gemiddeld R210 miljoen se wors uitgevoer, wat nou weens die uitbreking van listeriose verlore kan wees.
Van die grootste invoerders van wors is Lesotho, Mosambiek, Swaziland, Botswana en Zambië.
Kruger het aangedui dat Mosambiek, Namibië, Botswana, Zambië, die Seychelles, Malawi, Zimbabwe, Rwanda en Kenia reeds die invoer van wors uit Suid-Afrika verbied het. Die waarde van daardie uitvoer is sowat R100 miljoen.
Dit raak 46,2% van die totale uitvoer van hierdie produkte oor die afgelope twee jaar, maar vergeleke met die land se totale uitvoer na die hele wêreld word net ’n klein persentasie, 0,01%, geraak.
Rakende voorbereide of gepreserveerde vleis, wat wors uitsluit, was die totale uitvoer die afgelope twee jaar sowat R530 miljoen met die top-uitvoerbestemmings Lesotho, Namibië, die Verenigde Arabiese Emirate, Swaziland, Botswana, Duitsland, Brittanje en Mosambiek. Lande wat reeds ’n invoerverbod ingestel het, is Namibië, Botswana, Mosambiek, Malawi, Zambië en Zimbabwe. Die verbod raak ongeveer R202 miljoen se uitvoer van hierdie produkte.
Kruger het benadruk dat hierdie slegs die lande is wat ’n amptelike verbod ingestel het. Die moontlikheid bestaan dat verskeie lande bloot nie meer hierdie produkte invoer nie.