
Suid-Afrika se landbousektor sal waarskynlik vanjaar die derde opeenvolgende jaar groei, al is daar kommer oor hoë produksiekoste, sê die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP).
BFAP skryf die gunstige groeivooruitsig toe aan kommoditeitspryse wat skerp gestyg het weens ongunstige weersomstandighede in veral Suid-Amerika en kommer oor uitvoer vanuit Rusland en Oekraïne weens die oorlog daar. In ’n verslag oor die landbou se bruto binnelandse produk (BBP) die afgelope drie jaar, sê BFAP as internasionale pryse op die huidige hoë vlakke bly en insetmiddele geredelik beskikbaar is, al is dit teen ’n hoër koste, behoort Suid-Afrika se reële BBP vir die landbou verder te groei.
Internasionale faktore, soos meer gunstige weersomstandighede in die Noordelike Halfrond en vrede in die Swartsee-gebied, kan egter die situasie vinnig verander en pryse later in die jaar laat daal. Vir verbruikers is daar egter slegter nuus. Hoë pryse tesame met hoë energie- en vervaardigingskoste veroorsaak dat voedselinflasie sal bly styg, al verwag Suid-Afrika ’n groot oes van somergewasse.
BFAP sê Rusland en Oekraïne is groot uitvoerders van koring, mielies en sonneblomprodukte. Kommer oor uitvoer het reeds pryse skerp laat styg en die uitkoms van die konflik sal bepaal hoeveel die pryse verder sal styg.
Boere in Oekraïne moet in Maart en April begin koring plant, maar dit lyk onwaarskynlik. Rusland lewer sowat 15% van die wêreld se koringuitvoer en is ’n groot verskaffer van kunsmis in die wêreldmark.
Landbou, bosbou en visserye was Suid-Afrika se snelgroeiendste sektor in 2020 en 2021. Dit was een van net vier sektore wat wel ekonomies gegroei het.
’n Goeie vertoning van die tuinbousektor wat in die laaste kwartaal van 2021 met 11% in bruto produksiewaarde gegroei het, ondanks logistieke probleme, het BBP-groei van 12,2% vir die kwartaal beteken. Dit het die jaar se groeisyfer vir die landbousektorsektor se BBP tot 8,3% opgestoot, amper dubbel soveel as die groei in die nasionale ekonomie. Groei van 6% in die bruto produksiewaarde van diereprodukte het die tweede grootste bydrae gelewer, terwyl gesaaides se groei in die laaste kwartaal die kleinste bydrae van 2% gelewer het.
Die wynbedryf het ’n belangrike bydrae gelewer tot die groei in die tuinbousektor. Ná die beperkinge van 2020 het uitvoer met 46% op ’n jaargrondslag vir grootmaatvoorraad en 7% vir verpakte voorraad gestyg. Die styging in die uitvoerwaarde was op ’n jaargrondslag onderskeidelik 7% en 9%. As net die laaste kwartale van die twee jare in ag geneem word, was grootmaatuitvoer 80% hoër en die waarde daarvan het met 67% toegeneem.
BFAP sê wat die groei in die landbou nog indrukwekkender maak, is dat dit in 2020 ook met 13,4% gegroei het, wat dit die sektor maak wat die beste presteer het sedert die begin van die covid-19-pandemie.