
Met sy hoender- en suikerafdelings ingesluit, het RCL Foods se inkomste met 6,8% gestyg, maar daarsonder het dit met 13,1% gestyg.
Albei afdelings is deur die droogte geknou. Die hoenderafdeling is egter benewens duurder voer ook deur rekordvlakke van invoer benadeel.
RCL, wie se portefeulje die handelsmerke Rainbow en Farmer Brown insluit, sê hy evalueer alle moontlikhede in sy hoendersakemodel. Hy beweeg reeds al meer weg uit die mark vir kommoditeitshoender.
Ooraanbod
Mnr. Robert Field, finansiële direkteur, sê met kommoditeitshoender word verwys na die mark vir kitsbevrore hoenderstukke (IQF), waar daar weens die invoer 'n ooraanbod is en waar plaaslike produsente se koste geen rol in die prys speel nie.
Ingevoerde hoender, wat tans veral uit die Europese Unie kom, land teen lae koste omdat daardie produsente hoenderborsies teen goeie pryse kan verkoop en minder vir uitgevoerde stukke aan die been kan vra.
Wye keuse van aanbod
“Suid-Afrikaanse produsente wys produksiekoste aan alle dele van 'n hoender toe,” sê Field.
Die ooraanbod benadeel plaaslike produsente se prysgesprekke met kleinhandelaars, wat 'n wye keuse van aanbod het.
“Dit het 'n regstreekse invloed op die prys wat ons kan kry.”
RCL Foods werk hard daaraan om sy mandjie van produkte uit te brei wat hy aan kliënte in die bedryf vir kitsdiensrestaurante lewer, soos Nando’s, KFC, Chicken Licken, Starbucks, McDonalds en Burger King.