
Suid-Afrika staan reg vir enige moontlike invalle deur kommandowurm en/of sprinkane, sê die plaagbestryding-kenner dr. Gerhard Verdoorn. Hy sê hy sal verbaas wees as daar nié vanjaar uitbrekings van kommandowurm-en/of sprinkaan-plae hier voorkom nie.
Dit is egter geen rede tot paniek nie, omdat genoeg middels beskikbaar is om dit sonder omgewingskade doeltreffend te bestry. Hierby het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye ’n bekwame en ervare span wat gereed staan om onmiddellik op te tree, sê Verdoorn.
’n Uitheemse kommandowurm-spesie, die sogenaamde herfs-kommandowurm, teister reeds boere in ons noordelike buurlande. Die eerste berigte is in Desember uit Zambië ontvang, en die plaag het sedertdien na Zimbabwe en Malawië versprei. Meer as ’n tiende van Zambië se saaigrond het al deurgeloop, en in Zimbabwe het die invallers al na sewe van die agt provinsies waar mielies verbou word, versprei, berig die nuusdiens Bloomberg.
Verdoorn sê dit is nou baie belangrik dat ons boere uiters waaksaam en op die uitkyk vir moontlike uitbrekings moet wees. “Hulle moet letterlik daagliks in die lande en in die veld kom. Plaaswerkers se aandag moet daarop gevestig word dat hulle enige wurms wat groen met gelerige of ligte roomkleur bande, moet aanmeld. Bel my dan dadelik, dat ek die Departement van Landbou se ouens kan laat weet. Moenie wag tot ’n bevolking ontplof nie,” sê Verdoorn.
Hy waarsku teen die gebruik van organofosfate as beheermiddel, omdat dit voëls wat op die wurms teer, op groot skaal sal vergiftig. “Daar is genoeg ‘sagte’ (omgewingsvriendelike) middels beskikbaar waarmee kommandowurms doeltreffend beheer kan word.” Hy maan om dieselfde rede teen die gebruik van chloor-pirifos as beheermiddel in veld. “Bel my vir raad oor geskikte produkte.”
Hy voeg by dat toestande in veral die Karoo, wat nog oor groot gebiede droog en warm is, ook baie gunstig is vir sprinkaan-uitbrekings. Sodra dit noemenswaardig suid van Bloemfontein tot in die omgewing van Graaff-Reinet begin reën, moet boere veral begin oplet vir sprinkane.
Intussen sê mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbou-sakekamer Agbiz, die kommandowurm-uitbrekings in ons noordelike buurlande is van regstreekse belang vir ons plaaslike graanmarkte. Daar is nou ’n groter kans dat Suider-Afrika in die komende jaar opnuut ’n netto mielie-invoerder gaan wees (wat opnuut opwaartse druk op pryse sal plaas). Suid-Afrika produseer tradisioneel die meeste mielies in die streek, en Zambië die tweede meeste.
Dit word bespiegel dat die herfs-kommandowurm, wat gewoonlik in Suid-Amerika groot skade aanrig, weens klimaatverandering-wisselings in windstrome hoog in die atmosfeer op die trans-kontinentale sprong van daar na Afrika kon bewerkstellig. Dit is in 2016 die eerste keer in Wes- en Sentraal-Afrika opgemerk.
Verdoorn sê dieselfde beheermiddels behoort vir hierdie verwante spesie te geld as vir die gebruiklike kommandowurm wat in Suid-Afrika voorkom. Verdoorn kan by 082 446 8946 gebel word.