Uitvoerders moet seker maak dat die geld terugvloei na die produsent en die waardeketting se winsgewendheid moet behou en verbeter word.
Dr. André van der Vyver, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse graan-en-oliesadeverhandelingsvereniging (Sacota), het op die simposium van die Graanhanteringsorganisasie van Suid-Afrika op Mosselbaai gesê omdat die uitvoer van Suid-Afrika se produkte so belangrik is, is groei en hoër produksie op plaasvlak nodig. Dit is egter onmoontlik om net vir die plaaslike mark te produseer.
Uitvoer het baie voordele. Met werkloosheid van 34% is voedselsekerheid ’n groot probleem. Oorskotproduksie beteken uitvoerpariteit, wat die goedkoopste vorm van voedselsekerheid is. Dit skep broodnodige buitelandse valuta en uitvoer word ondersteun deur verskeie ekonomiese aktiwiteite in die waardeketting, wat die voordele wyd versprei.