Sonder die samewerking van groot besoedelaars, soos Amerika en China, sal die wêreld se klimaatsprobleme nie opgelos kan word nie, sê dr. Pieter Mulder, adjunk-minister van Landbou, Bosbou en Vissery.
Mulder, wat ’n genooide spreker by ’n konferensie oor klimaatvriendelike (climate smart) landboupraktyke in Durban was, het gesê Suid-Afrika se bydrae tot skadelike gasse wat aardverhitting veroorsaak, is maar 1,4%.
“As Suid-Afrika se beloofde teiken van ’n 34%-vermindering in skadelike aardgasse teen 2020 bereik en dit vir ’n jaar volhou, kan skadelike vrystellings in China dit binne 68 uur ongedaan gemaak.”
Klimaatvriendelike landbou
Suid-Afrika se onderneming by ’n vorige klimaatberaad in Kopenhagen is om aardgasse teen 2020 met 34% te verminder en teen 2025 dit tot 42% verhoog.
Die konferensie oor klimaatvriendelike landbou is deur die Verenigde Nasies se Voedsel en Landbou-organisasie (FAO) gereël om saam te val met die klimaatberaad COP 17.
Mulder het gesê volgens FAO-syfers sal die wêreld se boere teen 2050 sowat 70% meer kos moet produseer om in die behoeftes van ’n groeiende wêreldbevolking te voorsien.
Dit beteken die jaarlikse produksie van graankosse, soos koring en rys, sal van 2,1 miljard ton vandag tot 3 miljard ton moet toeneem. Die jaarlikse vleisproduksie sal met 200 miljoen ton moet toeneem om in die behoefte van 470 miljoen ton te voorsien.
29 November 2011