
Spoke oor negatiewe groei, stagflasie en selfs verse vir ’n resessie het vir eers gewyk, sê mnr. Johann Els, senior ekonoom by Old Mutual. Hy was ’n spreker by die onlangse Agridag op die Hamlet- kuns-en-kultuurfees op Prince Alfred Hamlet, naby Ceres.
“Dit lyk of inflasie volgende jaar heelwat kan val en vooruitsigte vir rentekoerse begin beter lyk. Die ekonomie groei steeds swak, maar ons gaan nie ’n resessie binne nie.”
Els is ook nie oortuig dat graderingsagentskappe Suid-Afrika in Desember gaan afgradeer nie. “Daar is ’n risiko, maar dis nie groot nie, of – soos die Engelse sê – slam dunk nie.” Hy het voorspel dat die rand oor die volgende 12 tot 18 maande tot R12,00 teenoor die dollar kan versterk. Dit sal egter nie op lange duur aanhou nie.
Buitelandse beleggers
“Dis danksy die kombinasie van goeie kommoditeitspryse, die swak dollar en buitelandse beleggers wat nog in Suid-Afrika wil belê.”
Els sê inflasie kan teen die middel van volgende jaar tot onder 5% daal, wat die Suid-Afrikaanse Reserwebank sal kans gee om rentekoerse te verlaag.
“Dis moontlik, selfs al groei die ekonomie net teen 1,3% of 1,5%. Daar was ’n kwaai droogte, maar die voorspellings dui daarop dat daar reën gaan val in die mieliestreke.
Produksie omswaai
“Dit sal produksie aan die landboukant omswaai, maar selfs as dit nie reën nie, sal die basiseffek inflasie beïnvloed.”
Die basiseffek verwys na die verandering in die inflasiekoers op ’n jaargrondslag. Tydens die hoogtepunt van die droogte het aartappels R100 per sakkie gekos. As dit vir ’n jaar lank so duur bly, is die inflasiekoers se verandering 0%.
“Daardie prys het egter reeds gedaal, wat beteken die inflasiekoers kan volgende jaar negatief wees.
“Ek dink egter dit gaan die volgende paar maande eers ’n bietjie opgaan, so 13% tot 14%, maar teen hierdie tyd volgende jaar sal dit 4% tot 5% wees.” Els verwag dat die ekonomie vanjaar teen 0,5% gaan groei.