
Volgens internasionale gegewens is Suid-Afrika nou die sesde grootste mielie-uitvoerder in die wêreld, sê mnr. Jannie de Villiers uitvoerende direkteur van Graan SA.
Hy het by Agri Delmas se jaarvergadering gesê Suid-Afrika sal na verwagting ’n totaal van 1,95 miljoen ton mielies (550 000 ton wit en 1 400 000 ton geel) vanjaar uitvoer. Tot nou is 135 515 ton wit mielies en 586 324 ton geel mielies reeds uitgevoer.
“Ons geraamde eindvoorrade van 1 403 000 ton wit mielies en 697 000 ton geel mielies is nog heeltemal te veel en ons sal nog heelwat moet probeer uitvoer.”
Hy sê waar die diepsee-uitvoer altyd hoofsaaklik geel was, is daar nou lande soos Korea en die Republiek van China wat al begin kyk na wit mielies ook, hoofsaaklik vanweë die gunstige prys teenoor geel. Korea het al 734 ton wit mielies ingevoer. Die meeste wit mielies is sover egter steeds na buurlande soos Botswana, Zimbabwe, Lesotho en Mosambiek uitgevoer.
Wat geel mielies betref, is 339 873 ton al na Taiwan en 48 145 ton na Japan uitgevoer. “Ons het ook interessante nuwe kopers soos Italië wat 50 078 ton en Portugal wat 52 499 ton gevat het.”
Ander voorsuitsigte vir groot kopers is Saoedi-Arabië wat jaarliks 7 miljoen ton mielies invoer en met wie daar onderhandel word en China met wie onderhandelinge lank reeds aan die gang is. Volgens De Villiers besoek ’n afvaardiging van China Suid-Afrika in September en hulle hoop ’n ooreenkoms word dan beklink.
“Ons sal moet maniere vind om winsgewend teen uitvoerpariteit te kan boer, want dit is die goodkoopste manier waarop ons hierdie land kan kosgee. Dit is dus belangrik om surplusse te produseer, maar ons wil dit so vinnig moontlik dan uitvoer om pryse te steun.”