
Die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf het ’n klein oorwinning behaal in sy stryd teen ’n nuwe voorgestelde Europese maatreël teen valskodlingmot (Thaumatotibia leucotreta) by lemoene wat ’n verlammende uitwerking op Suid-Afrikaanse uitvoer kon hê.
Die Europese Unie (EU) se staande komitee vir plante, diereprodukte, voedsel en voer (SCOPAFF) sou die afgelope week gestem het oor ’n voorgestelde wetswysiging waarkragtens alle lemoene uit Afrika en Israel eers minstens 16 dae kouebehandeling van 0 ºC tot -1 ºC sou moes ondergaan. Die komitee het egter sy stemming hieroor tot later in Mei uitgestel.
Mnr. Deon Joubert, die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV) se spesiale gesant vir handelsbetrekkinge in die EU, het vroeër gesê indien die komitee ten gunste van die wysiging gestem het, sou dit ’n einde gebring het aan die invoer van alle organiese lemoene, lemoene wat nie chemies behandel is nie, en verskeie belangrike kultivars wat nie bestand is teen dié temperature nie.
Joubert het Vrydagmiddag aan landbou.com gesê die bedryf is baie dankbaar. “Ons het nou een klein proses gewen, maar nog nie die oorlog nie.”
Die vereniging het van middel Maart tot middel April baie hard daaraan gewerk om lede van die komitee van die nodige inligting te voorsien rakende wat die werklike situasie met valskodlingmot by Suid-Afrikaanse lemoene is.
“Ons het die afgelope drie jaar sowat 800 000 ton/jaar sitrus, wat sowat 40 000 skeepshouers is, na die EU uitgevoer. Daar was jaarliks maar onderskeidelik 19, 14 en 15 onderskeppings, wat beteken ons prestasie was meer as 99,9% korrek, wat uitstekend is. Dit is so ná aan perfek as wat kan kom.”
Joubert sê daar is lande wat ander plantprodukte na die EU uitvoer, wat in verhouding baie meer valskodlingmot-onderskeppings gehad het.
“Een van die belangrike beginsels van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) se Most Favoured Nation-stelsel is dat ’n land nie buite verhouding kan optree nie. ’n Mens kan nie ’n muggie met ’n hamer doodslaan nie. Daar is baie voorbeelde van ander lande wat ’n groter risiko rakende valskodlingmot is.”
Lede van die SKV het in hul gesprekke met 11 van die 27 komiteelede dié en ander feite met die lede gedeel om te wys dat daar geen krisis bestaan rondom valskodlingmot by Suid-Afrikaanse lemoene nie. “Die voorgestelde wysiging was ons insiens op ongegronde statistiek gebaseer.”
Joubert sê dit lyk asof hul gesprekke vrugte afgewerp het. Hy vermoed die komitee het begin besef dat die wysiging nie noodwendig die afgelope week deur die meerderheid goedgekeur sou word nie.
Die komitee het nou gesê hy het nuwe voorstelle ontvang en gaan daaroor raadpleeg, wat volgens Joubert eintlik die proses is wat die komitee in November en Desember verlede jaar moes gevolg het, voordat die voorgestelde wysigings op 10 Februarie by die komitee vir sanitêre en fitosanitêre maatreëls van die WHO ingedien is.
Wanneer ’n land ’n probleem ervaar met ’n invoerproduk, is die normale prosedure dat die twee lande eers gesprek voer om oplossings te vind.
“Enige land is geregtig daarop om sy plantgesondheid te beskerm, maar ’n mens moet darem die nodige syfers hê wat op ’n probleem dui.”
Danksy die uitstel van die stemming en die komende raadpleging, kan die meriete van die wysiging onder die loep kom. Joubert sê dit is moontlik dat die komitee, weens politieke druk, steeds gaan probeer om ’n wysiging op die tafel te sit, maar dat dit waarskynlik dan iets gaan wees waaraan die Suid-Afrikaanse bedryf makliker sal kan voldoen.