
In ’n buitengewone stap het die Suider-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (CGA) ’n persoonlike skrywe aan mnr. Wladimir Poetin, die Russiese president, gerig in ’n poging om die peperduur vereiste van plakkers op Suid-Afrikaanse uitvoervrugte na Rusland opgehef te kry.
Sedert die Eurasiese Ekonomiese Kommissie (EEK) in Februarie 2015 ’n regulasie afgekondig ingevolge waarvan elke kartonhouer vrugte ’n plakker moet hê wat in Russies onder meer besonderhede van die land van herkoms, die produsent en die raklewe van die vrugte moet aandui, het sitrusuitvoer na Rusland skerp afgeneem.
Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die CGA, sê in sy brief dat Suid-Afrikaanse lemoenuitvoer na Rusland weens dié regulasie van 129 000 ton in 2013 tot slegs 66 000 ton verlede jaar gedaal het.
‘Enorme koste’
Van die inligting wat op die plakkers aangebring moet word, is nie dadelik beskikbaar wanneer die vrugte verpak word nie. Palette moet dan later oopgemaak word om dit op ál die kartonhouers aan te bring. Vir elke besending moet ’n nuwe stel plakkers teen sowat $0,50 per kartonhouer gedruk word.
“Dit is ’n enorme uitgawe vir die bedryf, aangesien daar jaarliks steeds 7 miljoen tot 10 miljoen kartonne vars vrugte na die Russiese Federasie uitgevoer word. Omdat boere en werkers nie Russies kan lees nie, sluip foute in. Dit moet ten duurste reggestel word, want die Russiese doeane-amptenare is ontoegeeflik,” volgens Chadwick.
Hy sê hoewel pres. Jacob Zuma en Poetin in Augustus 2014 ’n ooreenkoms bereik het om handelsbetrekkinge tussen Suid-Afrika en Rusland uit te brei, is die regulasies van die EEK teenproduktief. Hy stel voordat die plakkers met ’n stafieskodeplakker vervang word wat met hedendaagse tegnologie in enige taal verstaanbaar is.
Mnr. Anton Kruger, uitvoerende hoof van die Varsprodukte-uitvoerdersforum (FPEF) rig in ’n afsonderlike skrywe aan die Russies-Suid-Afrikaanse tussenregeringskomitee vir handel en samewerking ’n soortgelyke versoek en vra dat die plakkers met die nodige inligting net in Engels sal wees.
Saak verder gevoer
Daar is op die onlangse internasionale sitrusberaad in Port Elizabeth ’n beroep gedoen dat Zuma hierdie saak sal aanroer wanneer hy en Poetin weer vergader. Verder verneem Landbouweekblad vertroulik dat die saak aangeroer sal word wanneer me. Valentina Matienko, federale raadsvoorsitter van die Russiese parlement, Suid-Afrika vroeg vandeesmaand besoek.
Matienko is deur die FPEF genooi om tydens haar besoek aan Suid-Afrika ’n vrugteplaas te besoek, aangesien die uitvoer van vars vrugte 30% tot 35% van die handel tussen Suid-Afrika en Rusland verteenwoordig.