
’n Algemene, landwye benadering tot brandbestuur gaan nie die pyp rook ten aansien van die verhoogde risiko van wegholveldbrande wat klimaatsverandering meebring nie.
Dít was die gevolgtrekking van etlike omgewingswetenskaplikes op ’n webinaar oor brandbestryding wat deur die Working on Fire-program aangebied is. Working on Fire is ’n staatsgefinansierde brandbestrydingsorganisasie wat tans sowat 5 000 brandbestryders op meer as 200 basisse reg oor Suid-Afrika ontplooi het.
Prof. Sally Archibald, ekoloog verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir diere-, plant- en omgewingswetenskappe, het gesê beleid wat beheerde brande en ander aspekte van brandbestuur reg oor die land reguleer, behoort verfyn te word om diegene wat beheerde brande toepas, soos boere en natuurbewaarders, in ag te neem.
Dié doelwitte kan verskeie gestaltes aanneem, onder meer die verjonging van natuurlike weiding, die stopsit van bosindringing, die bestuur van die bewegings van plantvretende wild, en selfs spesifieke maatreëls om rampspoedige wegholbrande te voorkom of te stuit.
Navorsing nodig
Dr. Glynis Humphrey, ’n navorser verbonde aan die Universiteit van Kaapstad se eenheid vir plantbewaring, het met Archibald saamgestem en bygevoeg dat brandbestuurbeleid in ag moet neem dat mense “in verskillende seisoene om verskillende redes” brand begin.
“Baie navorsing is nog nodig om die dinamika van klimaat, plantegroei, mense en brande te verstaan sodat alle belanghebbendes kan saamwerk om brandveerkragtige gemeenskappe te skep. Voorligting is dan nodig om mense te leer hoe om vuur verstandig te gebruik en terselfdertyd hulself teen rampspoedige brande te beskerm.”
Die sprekers op die webinaar was dit eens dat skakeling met belanghebbendes en gemeenskappe op grondvlak noodsaaklik is in die opstel van haalbare en doeltreffende brandbestuurs-en-brandbeskermingsbeleid vorentoe.
Waarskuwing
Verwoestende welholbrande die afgelope paar jaar reg oor Suid-Afrika dui daarop dat die land nie immuun is teen soortgelyke brande wat toenemend elders ter wêreld voorkom weens klimaatsverandering nie.
Mnr. Trevor Abrahams, besturende direkteur van Working on Fire, het gesê die wêreld het in die afgelope tien agt van die ergste rampbrande in die geskiedenis van die mensdom ervaar. Die erns, aantal en omvang van rampbrande in Suid-Afrika toon ’n soortgelyke neiging met die bykomende kommer dat sulke brande toenemend die “landelike-stedelike koppelvlak” bedreig.
Sprekers op die webinaar het beklemtoon dat multidissiplinêre, gesamentlike navorsing deur plaaslike en internasionale kundiges nodig is oor hoe die klimaat, die omgewing, die samelewing en brandbestuur meewerk om brandrisiko’s te verhoog, ten einde die maatskaplike, ekonomiese en omgewingsbedreigings van sulke brande in die toekoms te versag.
Beter voorspellings
Dr. Sheldon Strydom, klimatoloog en senior lektor aan die Noordwes-Universiteit se skool vir geo- en ruimtelike wetenskap, het gesê een aspek wat tans ondersoek word, is om te bepaal hoe patrone van lugtemperatuur, atmosferiese druk, windspoed en reënval op kort- en langtermyn moontlik besig is om in verskillende dele van Suid-Afrika te verander. Veranderinge in dié faktore kan individueel en gesamentlik die risiko van rampbrande in dele van die land verhoog, en in ander dele verlaag.
“Namate ons meer leer, is ons in staat om akkurater, tydiger en meer gelokaliseerde brandgevaarindekse vir spesifieke gebiede te genereer. Dit kan toepaslike beplanning en reaksies deur brandbeskermingsverenigings en inwoners in daardie gebiede verbeter. “Brande is ’n natuurlike verskynsel in Suid-Afrika en vorm ’n aktiewe deel van baie natuurlike ekostelsels, maar verhoogde brandaktiwiteit kan hierdie ekostelsels en die ekonomie nadelig raak.”