
Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) het by die internasionale kommissie vir handelsadministrasie (Itac) aansoek gedoen om ’n teenstortingstarief van 307% op dié snit uit Duitsland, 176% uit Nederland en 92% uit Brittanje.
Mnr. Donald MacKay, ’n direkteur van XA International Trade Advisors, beskryf dit as “verbasend groot”.
Hoender uit die Europese Unie (EU) is weens die streek se vryhandelsooreenkoms met die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap nie aan invoertariewe onderhewig nie, maar beskermende tariewe geld sedert September 2018 op stukke aan die been.
Die bestaande teenstortingstariewe vir die spesifieke drie lande, wat heelwat laer is as wat nou gevra word, geld sedert 2015. Sulke tariewe verval volgens ’n afloopklousule ná vyf jaar, tensy Itac die verlenging daarvan vir nog vyf jaar hersien.
Itac het dié hersiening in ’n spesiale Staatskoerant aangekondig, twee dae voordat die tariewe op 26 Februarie sou verval. MacKay sê die bestaande tariewe sal geld terwyl die hersiening aan die gang is, wat gewoonlik 10 tot 12 maande duur.
Itac stuur vraelyste aan invoerders en uitvoerders in die betrokke lande, wat dit teen 3 April moet indien. Itac ondersoeke spesifieke maatskappye, maar sou tariewe ingestel word, geld dit alle maatskappye in ’n land, tensy sekere maatskappye inligting ingedien het wat Itac sou laat besluit om hul tariewe laer te maak. MacKay sê teenstortingstariewe verskil van gewone invoertariewe, omdat politiek ’n klein rol speel en dit op berekenings gegrond word, “eerder as op die uitsette van aggressiewe drukuitoefening”.Hy tree namens ’n aantal Europese maatskappye op en verwag dat heelwat van hulle op die Itac-vrae sal reageer.Storting is onwettig
Mnr. Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die SAPB se braaihoenderorganisasie, sê kragtens die reëls van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) is dit onwettig vir ’n land om sy oorskotproduk in ’n ander land te stort en daardie land te benadeel, terwyl pryse in die uitvoerland nie beïnvloed word nie en produsente daar bly sake doen, maar bedrywe in ander lande in die slag bly. “Die uitvoerderland is die sondaar, nie die (plaaslike) pluimveebedryf nie.” Volgens die SAPV se syfers is die EU die party wat die WHO-reëls oortree.
“Ons ondersoek wys verder dat Pole, Ierland en Spanje teen soortgelyke marges in Suid-Afrika stort. Dit is dan aanvaarbaar dat Itac na die berekeninge en bewyse kyk en oor die stortingsomvang besluit,” sê Breitenbach.Rakpryse
MacKay meen hoër invoertariewe sal die plaaslike prys van hoender laat styg.
“Indien die goedkoopste hoender uit die bedryf geneem word, sal die prys van hoender styg. Vir ’n bevolking waar 60% van proteïenverbruik hoender is, is ’n prysstyging moontlik nie die beste situasie nie, sê hy.
Breitenbach sê egter die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) se jongste navorsing toon dat goedkoper ingevoerde produkte nie daartoe gelei het dat verbruikerspryse gedaal het nie. Die marge tussen die eenheidswaarde van die ingevoerde produk en kleinhandelpryse het volgens die buro veral in onlangse jare groter geword, relatief tot die marge tussen produsentepryse van plaaslik geproduseerde kitsbevrore stukke en kleinhandelpryse.
Breitenbach sê die hersiening van die teenstortingstariewe het verder net op drie lande betrekking en dat sou ’n tarief hul invoerprys verhoog, is dit welbekend dat die invoer bloot van ’n ander land sal kom. “Ons het nie beskerming nodig nie; die probleem met onwettig gestorte hoender vanaf die EU en ander lande moet net aandag kry.“Die BFAP het bevind die hoenderbedryf is wêreldmededingend. Dit is die belangrikste bedryf in die landbou en het ’n regstreekse invloed op 40% van die graanbedryf,” sê Breitenbach.