
Die probleem het nou al dermate vererger dat boere nie saad vroeg al op hul plase wil hê nie. “Dit is ’n helse risiko. En ’n mens kan agterkom dit is asof daar ’n bestelling is vir die diewe om iets spesifieks te steel.”
As gevolg daarvan kan saaddiefstal volgens hom beslis as georganiseerde misdaad beskou word. “Dit is beslis nie ’n lukrake ding wat gebeur nie, dit is ’n beplande aksie. Dit is eintlik skrikwekkend hoe goed dit beplan word.”
Netwerk24 het gister berig oor 5 ton mieliesaad ter waarde van R1,2 miljoen wat op Donderdag 15 September op ’n plaas tussen Steynsrust en Kroonstad gesteel is. Luidens die berig het ’n goed georganiseerde sindikaat met twee bakkies en ’n sleepwaentjie opgedaag en al die boer se saad gesteel. Die saad van Pioneer en DKC was in sy gifkamer in ’n skuur toegesluit.
Louw sê saaddiefstal het ’n groter impak op individuele boere as die algemene aanplanting van mielies, maar die impak daarvan is steeds noemenswaardig. “ ’n Mens kan nie sê dat dit nie ’n impak het nie. Ek praat nou die dag met ’n groepie boere daaroor. Dit voel vir my asof almal wat boer, nou omtrent ook hul eie sekuriteitsmaatskappy nodig het. Dit is sleg.”
Hy sê die bykomende koste hiervan kan nie verreken word nie. “Sommige produsente se sekuriteitsrekeninge is tot R40 000 per maand. Iewers moet dit verreken word. Dit verhoog die produksiekoste nog verder.”
Volgens Louw is boere se veiligheidstrukture van so ’n aard dat saaddiefstal al hoe moeiliker raak. Die diewe raak egter al hoe meer georganiseerd en gesofistikeerd – en vind nuwe maniere om dit te omseil. “Elke boer se omstandighede verskil en daarom is dit moeilik om raad te gee oor hoe hierdie probleem vermy kan word. Die beste raad is om daarvan bewus te wees en paraat te wees.”
Louw sê enkele gevalle is reeds in die Vrystaat aangemeld soos insette na die plase geskuif word. Dit sal na verwagting al hoe meer voorkom, veral aangesien die waarde van saad al tot so ’n groot mate toegeneem het. “Omdat die waarde van die insette noemenswaardig styg, kan die risiko vir diefstal nog groter raak. Hoe hoër die waarde is, hoe meer van ’n teiken word dit vir misdadigers.”