
Die landboubelangenetwerk Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) en TLU SA het gister ’n samewerkingsooreenkoms onderteken om die twee organisasies se ooreenstemmende oogmerke te ondersteun.
“Die ooreenkoms is onderteken as uitvloeisel van die gemeenskaplike waardesisteem waaruit reeds verskeie beleidstandpunte, projekte en posisies ontstaan het waar TLU SA en Saai kragte saamgesnoer het om ons boere se belange te beskerm, te bevorder of uit te bou,” lui ’n verklaring.
Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, sê hulle het besluit om hul samewerking te formaliseer om die onderskeie organisasies se tyd, energie en hulpbronne te help bespaar. “Dit is in elk geval in die belang van ons lede.”
Van die oogmerke is om druk te plaas op die staat en die ondertekenaars van die landboumeesterplan om dit meer inklusief en realisties te omskryf, en op die Land Bank om aggressiewe stappe teen boere stop te sit. Verder werk albei aan die uitbreiding van die gebruik van sonkrag om boere se kwesbaarheid teen beurtkrag te beperk, luidens die verklaring.
“Die gemeenskaplike standpunte en projekte tussen die twee organisasies bring in getalle die grootste stem van boere op een platform byeen,” lui die verklaring. “Die krag van verteenwoordigende getalle is belangrik in beleidsbeïnvloeding en die daarstelling van burgerlike alternatiewe waar die staat die landbousektor in die steek laat met beleid en dienslewering.”
De Jager sê omdat die organisasies nie dieselfde struktuur het nie – Saai het nie affiliasies, streeks-, distriks- en plaaslike boereverenigings soos TLU SA nie – gee dit vir Saai ’n vennoot wat wel daardie struktuur het. “Wanneer daar argumentshalwe op ’n gegewe dorpie ’n polisiëringsforum tot stand kom en ons het nie daar ’n teenwoordigheid nie, kan ons staatmaak op TLU SA om ons te verteenwoordig.”
Hy sê daar is verskeie georganiseerde landboustrukture waaraan Saai nie kan deelneem nie omdat hy as organisasie nog nie vyf jaar oud is nie. Deur saam met TLU SA te werk kan Saai ook verteenwoordiging op daardie strukture kry.
Saai en TLU SA gee voorrang aan die ontwikkeling en bemagtiging van jong en aspirantboere. De Jager sê die organisasies wil mekaar se inisiatiewe ondersteun, soos TLU SA se Jongboer van die Jaar-kompetisie en Saai se klem op landboustudente, -skole en -kolleges.
“Ons het besluit om eerder ons pogings saam te voeg as om mekaar se terreine te betree. Ons sal hul Jongboer-kompetisie ondersteun en hulle sal ons studente- en skoolstrukture ondersteun,” sê De Jager.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.