
Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê die organisasie doen ’n beroep op die Land Bank en landbou-ondernemings om hul samewerking in die ondersoek te gee. “Die Land Bank behoort dit te verwelkom dat so ’n onafhanklike ondersoek moontlike skade aan sy reputasie kan beperk as dit sy verklaring bevestig dat ’n aanlyn ondersoek geen ongerymdhede of misbruik getoon het nie.”
Volgens De Jager het bewerings van ongerymdhede oor die Land Bank se versuim om te voldoen aan die vereistes van die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) gevolg nadat die Land Bank geweier het om te reageer op Saai se navrae.
“Saai het navraag gedoen oor die Land Bank se mandate en prosedures om honderde boere te likwideer vir skuld ter waarde van net ’n fraksie van die waarde van hul bates. Saai bevraagteken ook die optrede en gedrag van die Land Bank se agente op plase en die samewerking tussen amptenare, prokureurs, likwidateurs, afslaers en kaders.”
Hy sê sedert Saai twee weke gelede beswaar gemaak het teen die omvang, prosedures en koelbloedigheid van die Land Bank se likwidasie van boere (wat glo nie insolvent is nie), het die Land Bank ontken dat daar enige ongerymdhede of buitengewone optrede van sy kant af is. “Die Land Bank het egter nie sy aggressiewe likwidasie van boere stopgesit nie, en honderde boere getuig dat hulle slagoffers van dié veldtog is of was.
“Saai daag die Land Bank uit om self ook ’n bydrae tot die fonds te lewer om die bank se verbintenis tot skoon administrasie en etiese norme in sy besigheid met boere te bevestig.”