
Luidens ’n inligtingsdokument wat die Suid-Afrikaanse boere-ontwikkelingsvereniging (Safda) aan die nasionale departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling voorgelê het, word Makhathini se landbou-, ekonomiese en ontwikkelingspotensiaal vermors omdat suikerriet van daar af oor lang afstande vervoer moet word vir verwerking.
Die dokument beklemtoon hoe Makhathini se kleinskaalse suikerrietkwekers se geldsake ernstig geknou is toe ’n aantal meulens verlede jaar beduidende gedeeltes van hul oeste kon verwerk nie weens probleme met verouderde verwerkingfrastruktuur en die impak van die onluste in Julie 2021. Hierdie suikerriet moes gevolglik tot vanjaar wag voordat dit verwerk kon word.
“Safda het die departement genader vir finansiering van R8 miljoen om die lewensvatbaarheidstudie te onderneem vir ’n geïntegreerde spilpunt/meule in Makhatini wat suiker, etanol, krag en veevoer kan produseer. Dit sal ’n beduidende sosiaal-ekonomiese voordeel vir een van die armste landelike gebiede van KwaZulu-Natal inhou. Die oogmerk met die Makhathini-meule is om ’n meule te ontwikkel wat suikerrietlandbou-ontwikkeling in die Makhathini-, Jozini- en Mkhuze-gebiede kan ondersteun.”
In antwoord op vrae van Landbouweekblad sê dr. Siyabonga Madlala, Safda se voorsitter, dat die meesterplan vir die suikerrietwaardeketting erkenning gee aan swart suikerrietkwekers as fundamenteel belangrik vir Suid-Afrika se landbouwaardeketting. Die meesterplan het ten doel om transformasie, verhoogde markaandeel en deelname van en deur swart produsente in die nasionale suikerrietwaardeketting te bevorder. Hierdie waardeketting is vir diversifikasie en waardetoevoeging, asook die produksie van primêre produkte soos suiker en melasse.
“ ’n Nuwe meule met nuwe tegnologie, verbeterde doeltreffendheid en kapasiteit, en met uiteenlopende produkstrome, is presies wat die suikerrietbedryf nodig het. Safda, wat swart suikerrietboere verteenwoordig, beoog om ’n ontwikkelaar en eienaar in die Makhathini-projek te wees en sal nou betrokke wees by die bou van die Makhathini-aanleg saam met eendersdenkende strategiese projekvennote en -beleggers. Die mees lewensvatbare en winsgewende markte sal vir [sy] produkte verseker word om maksimum inkomste aan swart suikerrietboere te verseker,” sê Madlala.
Kommer oor lewensvatbaarheid
Dr. Thomas Funke, uitvoerende hoof van SA Suikerrietkwekers, sê sy bedryfsorganisasie het talle lede in die Makhathini-suikerrietleweringsgebied en is “uiters bekommerd” oor die lewensvatbaarheid van suikerrietboerdery in daardie gebied. Dit is grootliks as gevolg van die oorskot van suikerriet in Suid-Afrika en omdat Makhathini se suikerriet-oeste oor lang afstande na die naaste meule vervoer moet word.
“SA Suikerrietkwekers verwelkom enige ondersoek na ’n meer volhoubare suikerrietboerderysektor, maar erken ook dat daar talle probleme is wat oorkom moet word. Ons bly daartoe verbind om met alle belanghebbendes saam te werk om met volhoubare oplossings vorendag te kom.”
’n Finansiële reddingsboei is na Makhathini se suikerrietkwekers gegooi met die onlangse amptelike bekendstelling van ’n R38 miljoen pad-na-spooroorlaai-aanleg vir suikerriet by Mkhuze.
Toe hulle hul suikerriet padlangs na Tongaat Hulett Sugar (THS) se Felixton-meule sowat 200 km weg moes vervoer, het Makhathini se suikerrietprodusente selfs met ’n subsidie van THS glo R170/t betaal.
Volgens Safda se inligtingsdokument verminder die oorlaai-aanleg by Mkhuze hierdie produsente se vervoerkoste na die Felixton-meule tot sowat R112/t. Met ’n oes van ongeveer 117 000 ton suikerriet bespaar dit die kleinskaalse boere van Makhathini R6,8 miljoen per jaar.
Mnr. Deane Rossler, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse suikermeulenaarsvereniging (SASMA), sê hy kan nie kommentaar lewer op Safda se voorstel vir die meule nie omdat hy min besonderhede daaroor het. “Individuele beleggers besluit oor beleggings in meulens. As die meule ontwikkel word, sal die SASMA die aansoek om lidmaatskap oorweeg.”