
Nadat Sakeliga reeds in Augustus by Eskom in ’n aanmaningsbrief aangedring het dat onwettige lasvermindering op geteikende toevoerlyne gestaak moet word, word dit nou met ’n hofaaansoek opgevolg omdat die aanmaning geïgnoreer is.
Sakeliga sê Eskom staak nou al vir meer as ’n jaar lank gereeld en vir ure aaneen direkte gebruikers op bepaalde toevoerlyne se kragtoevoer in ’n oënskynlike poging om onwettige gebruik stop te sit en skuld in te vorder. In die proses word betalende eindgebruikers – gereeld besighede en boerderye – ook geteiken.
Mnr. Tian Alberts, regsbeampte, sê die lasvermindering word bo-en-behalwe beurtkrag toegepas en veroorsaak geweldige ontwrigting vir produksieprosesse en ook skade aan toerusting. Nadat Eskom die aanmaningsbrief geïgnoreer het, het Sakeliga sy regspan opdrag gegee om die hof te nader om sowel Eskom se lasverminderingsbeleid en die implementering daarvan as onwettige en ongrondwetlik te verklaar en ter syde te stel.
Poging om skuld in te vorder?
Volgens die hofstukke is Sakeliga, TLU SA, Agri Noordwes en die Magaliesburg-sitrusmaatskappy die aansoekers en die respondente is Eskom, die energie-reguleerder Nersa, sowel as die minister van minerale hulpbronne en energie. Sakeliga sê hoewel wetgewing voorsiening maak vir ’n vorm van lasvermindering, mag dit nooit ’n volledige staking van elektrisiteitstoevoer behels nie, maar slegs ’n gepaste vermindering in lasgrootte. Dit mag ook nie as ’n algehele skuldinvorderingmeganisme gebruik word nie.
Volgens korrespondensie in Sakeliga se besit, blyk dit of Eskom wel lasvermindering gebruik in ’n poging om skuld in te vorder en onwettige gebruik te stop. In die proses word verskeie betalende eindgebruikers se elektrisiteitstoevoer vir ure aaneen gestaak.
“Dit is onaanvaarbaar dat wettige eindgebruikers se besighede en lewensbestaan in die slag moet bly weens versuim en agteruitgang by Eskom,” sê Alberts. “Ten spyte van die verval en bedreiging wat dit vir die ekonomie en besighede inhou, kies die regering om ’n statutêre monopolie oor elektrisiteitsvoorsiening in Eskom te handhaaf. Diegene op sekere toevoerlyne wat pligsgetrou elke maand hulle elektrisiteitsrekeninge vereffen word nou verder gestraf omdat Eskom nie sy infrastruktuur in stand hou nie en nie daarin slaag om onwettige verbindings en toevoerlyne te verwyder nie.”
Sakeliga nooi sakelui en andere wat konkrete pogings wil aanwend om alternatiewe elektrisiteit op te wek, te versprei, te verkoop, of aan te koop en spesifieke behoeftes aan regsbystand op ’n beginselgrondslag het, om hulle te nader. Lees meer oor hierdie inisiatief hier.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.