
Agbiz en die nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) se landbouvertroue-indeks vir die eerste kwartaal van die jaar toon ’n verswakking met 5 punte tot 44. Die landbouvertroue-indeks het reeds gedurende die vierde kwartaal van 2022 met 4 punte teruggesak. Dit is die laagste vlak sedert die tweede kwartaal van 2020 toe die eerste inperkingsmaatreëls gedurende die covid-19-pandemie ingestel is.
Die eerste kwartaal se 44 punte is onder die neutrale vlak van 50 en volgens mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, kan dit dui op landboubesighede wat nie te optimisties is oor die toestande waaronder hulle sake in die sektor bedryf nie. Beurtkrag se intensiteit en voortslepende gevolge daarvan, hoër insetkoste, stygende rentekoerse, geopolitieke spanning en al hoe meer beskermingsmaatreëls wat uitvoermarkte teen invoer instel, blyk van die redes vir die daling in sakevertroue te wees.
Onderbrekings in verskaffingskanale en munisipale dienslewering wat aanhou agteruitgaan, is van die sleutelkwessies wat deelnemers aan die opname bekommer maak.
Tien afdelings
Die opname is in die laaste twee weke van Februarie onder ondernemings in die landbousektor en alle subsektore gedoen. Die indeks bestaan uit tien afdelings en ses daarvan het dalings gedurende die opnametydperk aangeteken.
Sentiment oor die algemene ekonomiese toestand het byvoorbeeld met 14 punte tot 11 gedaal. “Die sombere vlak van algemene ekonomiese toestande spreek van die huidige moeilike besigheidstoestande wat onder meer deur aanhoudende energie-tekorte, kommer oor inflasie en stygende rentekoerse meegebring word,” volgens Sihlobo.
Die subindeks wat die sentiment oor die algemene landboutoestande meet, het met 9 punte tot 31 geval, die laagste vlak sedert die vierde kwartaal van 2019.
Die daling weerspieël volgens hom dalk die uitwerking van oormatige reën aan die begin van Suid-Afrika se 2022-’23-somergewasproduksieseisoen, wat probleme vir boere en ander belanghebbers geskep het. “Gewasaanplantings in verskeie streke van Suid-Afrika is met ongeveer ’n maand vertraag, wat opbrengsvooruitsigte bedreig het, maar die warm weer einde Januarie en in ’n groot deel van Februarie het gehelp om toestande op die plase te verbeter. Dit het dus kommer oor die moontlikheid van kleiner opbrengste weens oormatige grondvog verlig,” sê Sihlobo.
“Boonop het die aanhoudende beurtkrag kommer laat ontstaan ??dat gebiede onder besproeiing swak opbrengste kan kry. Tog het die terugkeer van reënval, hoewel teen ’n matige pas, vanaf middel Februarie ’n broodnodige blaaskans en verbeterde oestoestande verskaf.”
Wat indiensneming betref, het die sentiment onder deelnemende sakelui met 12 punte tot 47 gesak teenoor die vorige kwartaal. Die feit dat dit tot onder die neutrale vlak van 50 punte gedaal het, kan dui op kommerwekkende tekens oor hoe die sektor die omgewing van indiensneming beskou.
In die vierde kwartaal van 2022 was daar ongeveer 860 000 mens in diens van die primêre landbousektor, wat klaar ’n daling op ’n kwartaal- én jaargrondslag was.
Die subindeks oor omset het met 9 punte geval tot 69, maar hierdie vlak is steeds beduidend hoër as die langtermyngemiddelde. Dit kan volgens Sihlobo dui op heelwat boere wat steeds voordeel trek uit betreklik hoë pryse van gewasse, veral grane en oliesade. Die verwagte groot someroes vir die 2022-’23-produksieseisoen gee ook volgens hom goeie steun op hierdie vlak.
Die subindeks oor kapitaalinvestering het met 7 punte teruggesak tot 59 en die afwaartse beweging is volgens hom nie verrassend nie gegewe stygende rentekoere en beurtkrag wat erge druk op ondernemings plaas.
Die uitskieters
Die subindeks oor netto bedryfsinkomste het wel met 2 punte tot 61 geklim.
Die sentiment oor die volume van uitvoer het met 13 punte gestyg tot 63 op grond van uitvoeraktiwiteite verlede jaar. “Hoop bestaan dat die neiging vanjaar kan voortduur. Suid-Afrika se landbou-uitvoer was in 2022 vir ’n derde agtereenvolgende jaar aan die styg en het einde verlede jaar met 4% op ’n jaargrondslag tot $12,8 miljard (R235,5 miljard) gegroei.
Skuld en slegte skuld
Die subindekse vir slegte skuld en finansieringskoste word anders as die ander subindekse geïnterpreteer aangesien ’n daling daarin gunstig is, maar ’n styging dui op groeiende finansiële druk.
In die eerste kwartaal van die jaar het die voorsiening vir slegte skuld met 2 punte tot 36 geklim. Dit wek kommer oor die finansiële omstandighede in die sektor.
Die inligting oor finansieringkoste het wel vir ’n verrassing gesorg met die daling van 1 punt tot 3.
Wat moet gedoen word?
Die landbouvertroue-indeks vir die eerste kwartaal van die jaar toon toenemende kommer by belanghebbers in die landbou en landbousakesektor oor die ekonomiese toestande in die sektor. “Die aanpak van die elektrisiteitskrisis en sektor-spesifieke kwessies soos biosekerheid, die uitbreiding van uitvoermarkte en die hantering van ondoeltreffendheid in munisipaliteite se dienslewering is van die sleutelkwessies. As dit aangepak word, kan dit help om sentiment en die wel en wee van die landbou en landboubesighede te verbeter,” sê hy.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.