
Sanlam Private Equity (SPE) het 'n meerderheidsbelang van 60% in die familie-onderneming JAB Dried Fruit Products van Mpumalanga gekoop.
JAB bestaan sedert 1979 en is 'n verwerker en bemarker van droë vrugte en neute, beide plaaslike en oorsee.
Me. René Schutte, SPE-beleggingshoof, het gesê die transaksie is só gestruktureer dat dit deels 'n uitkoop was en deels 'n kapitale inspuiting aan JAB voorsien. “Die kapitaal sal gebruik word vir uitbreidingsprojekte wat die raad reeds geïdentifiseer het en nou beoordeel.”
Onmiddelike groei
Schutte sê JAB se onmiddellike groei sal na verwagting breedweg met sy huidige kernsake verband hou. “Die maatskappy ondersoek 'n hele paar opwindende geleenthede wat ontsluit kan word deur waarde tot die bestaande produkreeks te voeg.”
Sowat 60% tot 70% van sy produkte word uitgevoer, onder meer na Amerika, Europa en Brittanje.
“Die bestuur glo daar is in die meeste internasionale markte nog heelwat groeipotensiaal vir sy bepaalde stel produkte,” sê Schutte.
Benut netwerke
SPE het volgens haar beleggings in 'n wye reeks bedrywe en probeer waar moontlik netwerke benut tussen die maatskappye waarin hy reeds 'n belegger is. SPE was 'n ankerbelegger in Agri-Vie (nou Exeo Capital) se eerste landboufonds.
“Die kwessie van voedselsekerheid, tesame met die skaarsheid van bewerkbare grond en water, asook verbruikers se verskuiwing na gesonder eetgewoontes, skep volgens ons 'n goeie beleggingstema.
“Ons glo daar is goeie geleenthede in die landbou- en voedselverwerkingsektor. Die tydsraamwerke vir groei in dié bedryf, is egter langer as met tipiese private ekwiteitsbeleggings. Beleggers moet dus geduldig wees vir die verwesenliking van 'n gepaste opbrengs,” sê Schutte.