In ’n onafhanklike ondersoek die afgelope ses maande na die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se tribunaal is bevind dat alle beslissings van dié hof bindend en afdwingbaar moet wees binne al die lidlande van die SAOG.
Die koerant The Zimbabwean berig die ondersoek is gedoen deur WTI Advisors (’n filiaal van die Wêreldhandelsinstituut) in Genève, Switserland. Die aansoek hou verband met die omstrede besluit van die SAOG-staatshoofde in Augustus verlede jaar dat die tribunaal se werk eers gestaak moet om die werkwyse van die tribunaal te ondersoek. Die tribunaal is daarna so te sê ontbind.
In die ondersoek is bevind:
• Die SAOG-tribunaal is wettiglik ingevolge ’n protokol van die SAOG gestig.
• Die tribunaal het die wettige gesag het om individuele menseregte-petisies te beoordeel.
• Die SAOG-gemeenskapsreg is verhewe bo lande se huishoudelike reg en grondwet.
• Besluite van die tribunaal moet bindend en afdwingbaar wees binne alle lidlande.
• Die SAOG-lande het die vereiste dat die tribunaal-protokol eers bekragtig moes word, laat vaar.
• Zimbabwe mag nie aanvoer dat die tribunaal nie wettiglik gestig is nie nadat hy aan al die verrigtinge van die tribunaal deelgeneem en selfs ’n regter benoem het nie.
• ’n Lidland kan hom nie op sy eie regstelsel beroep as verdediging teen ’n oortreding van ’n internasionale verpligting nie.
Hierdie bevindings sal waarskynlik ter sprake kom op ’n buitengewone beraad vir SAOG-staatshoofde vandag en môre in Namibië.
20 Mei 2011