
Van 2012 tot 2017 is sowat 26 000 vuurwapens van die polisie gesteel en van 2005 tot 2011 het SAPD-lede 18 000 vuurwapens verloor, het hy gesê. Boonop het mnr. Bheki Cele, minister van polisie, in 2019 aan die parlement erken dat die polisie oor ses jaar, sedert 2013, sowat 10 miljoen patrone verloor het.
Cameron het sy agterdog uitgespreek oor die vraghouer vol ammunisie wat tydens die oproer in Julie by die Durbanse hawe gesteel is. “Hoe is dit dat die plunderaars toeslaan enkele minute nadat die polisie die ammunisie in die vraghouer getel het en die houer veronderstel was om geseël en onder polisiebewaking te wees?
“Altesaam 1,5 miljoen patrone is gesteel en Cele het die vermetelheid om te spog oor ’n deurbraak in die ondersoek daarna nadat die polisie ’n paar patrone teruggekry het, maar hy noem nie eens dat dit die polisie was wat dit moes bewaak nie.”
Dit is nie egter net die polisie nie, het Cameron gesê. Die weermag kon in 2011 nie rekenskap gee van 18 000 vuurwapens wat weg is nie, en die metropolisie in stede vaar nie veel beter nie. Die Wes-Kaapse metropolisie het tans die beste rekord as dit by die behoud van hul vuurwapens kom.
’n Onlangse opname in die Oos-Kaap het gevind dat 47% van die provinsie se gewapende polisiebeamptes onbevoeg is. Tog word wettige eienaars gedwing om bevoegdheidstoetse af te lê en gereeld hul sertifikate te hernu al wys navorsing van mnr. Gideon Joubert, die stigter van Paratus, dat minder as 5% van gewapende misdaad deur die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) aangepak kan word. “Ons kry geen data wat bewys dat dié wet enige impak op misdaadbekamping het nie,” het Cameron gesê.