
Die plaas, Esperanza, is in 1980 deur Sasol aangekoop vir die vestiging van sy Secunda-aanleg en ’n deel van die grond is aanvanklik deur ’n Esperanza-trust benut vir ’n groente-en-hoenderboerdery deur lede van die omliggende gemeenskap. Nadat die trust later ontbind het, het die Govan Mbeki-munisipaliteit van die grond gehuur vir landbou- en vervaardigingsbedrywighede.
Sasol self bedryf ’n ontwikkelingsprojek vir ontluikende boere, bekend as die Iphepe-program, op die grond.
Volgens me. Charlotte Mokoena, ’n uitvoerende vise-voorsitter van Sasol, het meer as 300 nuwe boere uit die distrik al voordeel getrek uit die projek. Verlede jaar is 85 nuwe boere met behulp van die program opgelei by die Buhle-akademie op Delmas, wat daarin spesialiseer om nuwe en aspirantboere van oor die land op te lei om volhoubare en winsgewende boerderye te vestig.
’n Verdere 88 boere sal vanjaar hul opleiding voltooi. Die nuwe boere word ook bygestaan met produksie-insette, mentorskappe en toegang tot markte.
Die departement word betrek om meer geleenthede aan ontluikende boere te bied.
Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike hervorming, wat die grond namens die provinsiale afdeling van haar departement in ontvangs geneem het, het Sasol geloof vir sy ontwikkelingsprogram en betrokkenheid by plaaslike gemeenskappe. “Wat veral belangrik is, is die benadering met die Iphepe-program. Julle kon net aan jong mense ’n stukkie grond gegee het en hulle aan hul eie lot oorgelaat het. Julle gee hulle egter die nodige opleiding en hulp met produksie-insette om op die been te kan kom.”
Iphepe is deel van ’n groter program van Sasol, bekend as Bridge to Work, wat uit ’n hele portefeulje programme bestaan om ekonomiese geleenthede te skep vir jeugdiges, vroue en werklose volwassenes in omgewings waar Sasol betrokke is. Benewens landbou-opleiding word opleiding verskaf in onder meer motorwerktuigkunde, sweiswerk en tegnologie.