Hoewel weerstelsels teen middel Augustus nog in die neutrale gebied van die temperatuurreeks vir die El Niño-gebiede beweeg, dui voorspellings steeds aan dat daar ’n groot waarskynlikheid is dat ’n El Niño-weerstelsel teen Oktober vanjaar kan ontwikkel, sê mnr. Johan van den Berg, klimatoloog by Santam Landbou.
Die Australiese buro vir meteorologie het teen middel Augustus gesê die onderskeie weerstelsels wat hy vir sy verslae oor die Enso- (El Niño Suidelike Ossillasie) indeks bestudeer, dui steeds op ’n kans dat ’n El Niño-stelsel kan ontwikkel. Die buro het in Julie gesê die kans op die voorkoms van ’n El Niño-stelsel is 60%.
“Die meeste internasionale modelle wat deur die buro nagegaan is, voorspel dat die tropiese Stille Oseaan binne die volgende paar weke gaan begin verwarm. Die meeste modelle dui aan dat El Niño-vlakke (seetemperatuurvlakke) teen einde vanjaar bereik gaan word, terwyl die meeste aandui dat dié vlakke teen die middel of die einde van die lente bereik kan word,” sê die buro.