
Minstens sewe ander Afrika-lande het na Suid-Afrika se Senekal Boerdery gevry om soontoe uit te brei, maar Zambië het dié megaboerdery se hart gewen.
Mnr. Dreyer Senekal, seun van die bekende megaboer Charl Senekal, het by 'n seminaar van die onderneming Agri All Africa oor landbou-geleenthede in Zambië gesê die Senekal Boerdery is ná sowat agt besoeke gereed om binnekort daar te belê.
"Zambië het alles: Wonderlike, mense, watersekerheid, padinfrastruktuur, elektrisiteitsuitbreiding, toegang tot top-regeringsamptenare deur bloot die foon op te tel, 99 jaar-huurpag of titelaktes vir grond, en 'n stabiele regering wat vir 'n stabiele land sorg," het Dreyer by die seminaar in Centurion gesê, wat ook deur ander belangstellende Suid-Afrikaanse boere bygewoon is.
Uitdagings in Suid-Afrika
Die uitdagings wat die Senekal Boerdery tans in Suid-Afrika ervaar, is grondhervorming, veiligheid, en regeringsteun vir boere rakende water en veiligheid.
"Tien tot vyftien jaar gelede was plaasveiligheid nie 'n kwessie nie. Nou kan 'n mens die koste per hektaar of per ton suiker bereken. Dit word 'n groot ding vir ons."
Dreyer het gesê daar is natuurlik ook uitdagings om in die buiteland te boer, soos sekerheid oor grond en water, elektrisiteit, taal en padinfrastruktuur.
Jy kan uitbrei, met sekerheid
Die voordele is egter dat 'n mens jou huidige boerdery-onderneming uitbrei deur grond te verkry teen 'n prys wat laer is as in Suid-Afrika, dat jy watersekerheid kan verkry, en met die hulp van 'n onderneming, soos Agri All Africa, grond in die regte gebied vir die regte gewas kan kry.
Op 'n vraag van dr. Theo de Jager, voorsitter van Agri All Africa, oor wat die familie op spesifiek Zambië laat besluit het, het Senekal gesê: "Ons is besproeiingsboere, ons hou daarvan om water te sien en ons was beïndruk met wat ons gesien het.
"Watersekerheid gaan in die toekoms 'n baie groot kwessie word. As jy water het, kan jy enigiets plant."
'n Tweede belangrike rede is dat 'n mens Zambië per pad kan bereik, en dus byvoorbeeld 'n trekker op 'n trok kan laai en soontoe kan neem, pleks van om dit per vliegtuig soontoe te moet neem, het Senekal verduidelik.