
Die omset het van die vorige ooreenstemmende tydperk se R5,12 miljard tot R6,68 miljard toegeneem.
Senwes se netto verdienste het vanaf R518 miljoen tot R715 miljoen gestyg. Kontantvloei gegenereer uit bedryfsaktiwiteite beloop R918 miljoen, wat 39,3% hoër is as die R659 miljoen wat gedurende die ooreenstemmende tydperk van die vorige jaar gegenereer is.
Die wins toeskryfbaar aan ekwiteitshouers van die moedermaatskappy is R392 miljoen, ’n toename van 29,8% vanaf die R302 miljoen teenoor die ooreenstemmende tydperk van die vorige jaar, sê die groep in sy verklaring.
“Die groep se uitsonderlike resultate dui op ’n goed gebalanseerde besigheid ten opsigte van diversifikasie,” sê mnr. Francois Strydom, uitvoerende hoof, en voeg by dat Senwes se klem steeds op kostebeheer, voortgesette doeltreffendheid en strategiese kapitaaltoewysing is, te midde van hoër inflasie en druk op sy handelsmarges. “Behalwe vir spesifieke bedryfs- en makro-ekonomiese probleme het faktore soos die voortgesette goeie landbouproduksie- en kommoditeitspryssiklusse ook ’n impak op die besigheid se prestasie gehad.”
Ander finansiële hoogtepunte is die verklaring van ’n tussentydse dividend van 36 sent per aandeel (2022: 34 sent per aandeel), terwyl die netto batewaarde van die groep met 14,4% tot R20,60 per aandeel toegeneem het. ’n Genormaliseerde wesensverdienste per aandeel van 249,4 sent is in die eerste ses maande gelewer, wat 34,3% hoër is as die 185,7 sent per aandeel vir die ooreenstemmende tydperk van die vorige jaar.
Vooruitsigte
Strydom meen dat marksentiment gunstig sal bly, soos die reënseisoen vir produsente van somergewasse begin.
Strydom het in antwoord op ’n vraag op die program RSG Geldsake oor die moontlike ongunstige impak van die baie nat huidige planttoestande gesê dit skep beslis probleme, maar die werklike uitwerking sal eers in die volgende stel finansiële resultate duidelik word.
Senwes verwag om nóg ’n robuuste stel finansiële resultate te lewer wat die onderliggende sterkpunte van die sakemodel en die voortgesette uitvoering van sy strategiese doelwitte weerspieël.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.