Mnr. Mdu Shabane, wat al 10 jaar aan die Departement van Grondhervorming verbonde is, is as die nuwe direkteur-generaal (DG) van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming aangestel.
Luidens ‘n verklaring sal Shabane vanaf 1 November die posisie beklee. Dr. Nozizwe Makgalemele, wat sedert die bedanking van mnr. Tozi Gwanya die waarnemende DG was, sal tot die einde van die maand in die posisie staan.
Shabane het grondbewerking aan die Universiteit van Wisconsin, Amerika, studeer. Hy het ook ‘n kursus in grondbestuur aan die Universiteit van Durban gevolg en ‘n diploma in openbare bestuur aan die Natalse Technikon verwerf. Hy was die hoof van die Sekretariaat van die Ingonyama Trustraad, en het ook as voorsitter van die Nasionale Grondkomitee gedien.
Drie ander posisies
Volgens die departement is mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, ook verheug oor drie ander aanstellings wat ook deur die Kabinet goedgekeur is.
Mnr. Mmuso Riba is as die hoof opname-general aangestel. Hy het ‘n B.Sc graad in Wiskunde en Natuur- en Skeikunde aan Medunsa, asook ‘n B.Sc graad in grondopname van die Universiteit van Kaapstad. Hy diens tans op verskeie komitees en is die voorsitter van die Opnameregualsieraad.
Mnr. Sam Lefafa is aangestel as die hoofregistarsteur van titelaktes. Hy is ‘n advokaat, met B.Proc en LLB grade. Hy het in fundamentele regte en grondwetlike praktyk gespesialiseer. Hy het al verskeie stukke wetgewing help ontwikkel.
Me. Ntsiki V. Mashiya is as die senior bestuurder van ondersteuningsdienste by die departement aangestel. Sy het 12 jaar se bestuursondervinding, en is tans besig met haar meestersgraad in inligtingswetenskap by die Universiteit van Winchester in Brittanje.
29 Oktober 2010