
Lande wat diereprodukte invoer, plaas te veel klem op die siektevrye status van die land van oorsprong.
Dr. Alex Thiermann, president van die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) se kommissie vir die organisasie se landdiergesondheidskode, het by die pluimveekongres AVI Africa gesê baie lande ignoreer die OIE se risikogegronde aanbevelings oor veilige handel. “Julle (Suid-Afrika) is ’n slagoffer hiervan.”
Hy het gesê dit is moontlik om sonering of kompartementalisering toe te pas. Sonering kan op ’n geografiese grondslag op ’n sub-bevolking van ’n dier toegepas word terwyl kompartementalisering deur bestuur en biosekerheidspraktyke bepaal kan word.
Vir albei metodes is ruimtelike oorwegings en goeie bestuur volgens Thiermann baie belangrik. Die voordele van kompartementalisering is dat handel kan plaasvind, selfs al is ’n land of streek nie vry van ’n sekere siekte nie. Die veiligheid van die kompartement kan gewaarborg word, selfs al kom die bedreiging van wildlewe af.
Vir kompartementalisering om ’n sukses te wees is ’n geloofwaardige veeartsenydiens egter nodig, wat oudits en sertifisering doen. Volgens Thiermann word die diereproduksiebedryf al groter en ingewikkelder, terwyl veeartsenydienste wêreldwyd al kleiner en swakker word.
Dit gebeur gereeld dat daar nie ’n goeie verhouding tussen die openbare en private sektore is nie. Hy het gewaarsku dat lande wat nie deursigtig is met kennisgewings van siektes nie, hul geloofwaardigheid kan verloor. Volgens Thiermann is beter openbare kommunikasiestrategieë nodig en die dialoog tussen die produksie- en akademiese sektore moet versterk word.