
Die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) verwys in sy jongste oorsig oor voedselinflasie na ’n berig deur FreshPlaza waarvolgens die prys van piesangs in Gauteng reeds begin styg het.
Dit volg nadat die tropiese sikloon Freddy piesangplantasies en paaie in Mosambiek verspoel het en voorraadvlakke daardeur geraak word. Volgens FreshPlaza kom sowat 75% van die piesangs wat op Gautengse markte verkoop word, uit Mosambiek en Eswatini.
BFAP sê in teenstelling hiermee kan lemoene se pryse in die komende maande daal. Hoër voorraadvolumes danksy beduidende uitbreiding in Suid-Afrikaanse produksie in onlangse jare kan afwaartse druk op die prys plaas.
Luidens die BFAP-ontleding, gegrond op kosinflasiesyfers van Februarie vanjaar, het die pryse van uie, aartappels en tamaties skerp gestyg weens aanbodbeperkings te midde van wisselende weerstoestande. “Vir tamaties word verwag dat die algemene opwaartse neiging tot Paasnaweek kan voortduur.”
Vleispryse
Voedselinflasie het in Februarie tot 13,6% gestyg, terwyl algemene verbruikersprysinflasie 7% was.
Vleis en vis het 3,9 persentasiepunte tot voedselinflasie bygedra. “Met verbruikers se bestedingsvermoë onder toenemende druk en die uitvoer van vleis wat stadiger as gewoonlik plaasvind, het beeskarkaspryse begin daal. Dit kan in die komende maande na kleinhandelpryse vir vleisprodukte oorspoel,” sê BFAP.
Hoendervleispryse het in Februarie verder gestyg, hoofsaaklik weens die swakker wisselkoers wat die prysdaling in internasionale markte teengewerk het, asook weens die uitwerking van beurtkrag op plaaslike verwerkingskapasiteit.
Graan- en oliesaadpryse
Volgens BFAP daal graan- en oliesaadpryse internasionaal stadiger as verwag. Die hooffaktore wat pryse hoog hou, sluit die voortgesette oorlog tussen Rusland en Oekraïne in – albei is belangrike uitvoerlande – en klimaatstoestande in Noord- en Suid-Amerika.
Indien die Suid-Afrikaanse rand nié verder verswak nie, behoort die land se belangrikste graan- en oliesadepryse in die komende maande te daal weens die voortgesette daling in wêreldpryse.
Wisselkoers en beurtkrag
Voedselinflasie kan volgens BFAP in Maart 2023 ietwat matiger word weens die hoë basiseffek van pryse van Maart 2022.
Die belangrike faktore wat in die komende maande tot voedselinflasie gaan bydra, sluit volgens BFAP die wisselkoers en die omvang van beurtkrag in.
Indien beurtkrag op taamlik hoë vlakke bly, soos wat die algemene konsensus is, sal dit ’n belangrike faktor wees wat Suid-Afrikaanse voedselpryse langer hoog hou. Die styging in geadministreerde pryse, soos vir elektrisiteit, kan verdere kostedruk toevoeg.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.