
MSC se skip Altair het begin April ongeveer 2 000 verkoelde vraghouers na die Ngqurahawe, net buite Gqeberha (Port Elizabeth) geneem. Dit sal na Kaapstad en Durban versprei word, het mnr. Justin Chadwick, uitvoende hoof van die Suider-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV) in ’n tweet aangekondig.
The MSC Altair bringing in 2 000 containers to Coega for distribution to Durban and Cape Town; great news as the citrus industry gears up for 2021 pic.twitter.com/4XyOpkMsEG
— Justin Chadwick (@justchad_cga) April 11, 2021
“Wonderlike nuus terwyl die
sitrusbedryf voorberei vir 2021.”
Die skeepsredery Maersk het aangekondig dat een van sy skepe, Maersk Vallvik, begin April met 700 verkoelde vraghouers in Durban aangekom het ter ondersteuning van die komende sitrusseisoen en sy kliënte se behoeftes.
Die vraghouers is ingebring van die Midde-Ooste en sal deel vorm van Mearsk se roete tussen Suid-Afrika en Amerika.
Met nog ’n rekordseisoen vir sitrus op hande kan die wêreldwye tekort aan verkoelde vragskeephouers ’n groot probleem vir Suid-Afrika se belowende sitrusuitvoer wees.
Volgens die SKV sal Suid-Afrika nagenoeg 95 000 verkoelde vraghouers in 2021 benodig vir sitrusuitvoer. Nagenoeg 120 000 verkoelde vragskeephouers sal van April tot Oktober benodig word wanneer ander vrugtebedrywe soos die subtropiese en sagtevrugtebedryf se behoeftes ingesluit word.
Bron van kommer
“Terugvoering dui aan dat daar ’n probleem kan wees om in die vraag te voorsien,” sê Chadwick. Logistiek en marktoegang is die bedryf se grootste bron van kommer in die komende seisoen.
“Die tafeldruifbedryf het ’n moeilike einde van die seisoen beleef weens swak prestasie by Kaapstad (se hawe) en ’n tekort aan vraghouers wat ’n invloed op die seisoen gehad het. Ons hoop dinge sal verbeter namate ons meer vraghouers begin inkry.”
Wêreldwyd word tans probleme ondervind om verkoelde vraghouers by verskillende bestemmings te kry, terwyl verskeie faktore daartoe lei dat vragskeephouers in China ophoop.
“Aangesien daar so ’n hoë vraag is vir gewone vragbeweging vanuit China na Amerika, Suid-Amerika en Europa; tesame met buitengewoon hoë tariewe weens die hoër vraag, gee skeepsrederye ruimte op wat gebruik sou kon word om verkoelde vraghouers te verskuif,” sê Chadwick.
Nog ’n faktor is die massiewe vraag na varkprodukte weens Afrika-varkpes in China, wat beteken dat baie verkoelde vraghouers van Amerika, Suid-Amerika en Europa terug na China verskeep word. Dit het reeds die uitvoer van sagtevrugte van die Wes-Kaap benadeel, sê Chadwick.
Probleme bespreek
Skeepsrederye en twee van die SKV se bestuurspanlede, mnre. Mitchell Brooke en Deon Joubert, het reeds vergader om die probleme rondom hawewerksaamhede en -kapasiteit te bespreek.
Op die vergadering is bevestig dat die moontlike tekort aan verkoelde vraghouers ten nouste gemonitor sal word. Verder moet uitvoerders hulle voorberei op aansienlik hoër verskepingskoste omdat Suid-Afrika deelneem binne die globale mark. Uitvoerders is ook ingelig dat markpryse aangepas moet word om die hoër vragkoste te dek. Gespesialiseerde verkoelde vaartuie sal ingebring word en bykomende skepe kan ingebring word indien die vraag daarna ontstaan. Dit sal wys wees om so ’n geleentheid te benut om vrugte te verskuif.
Indien die geskatte volumes vir die seisoen behaal word, sal Transnet se kapasiteit en infrastruktuur se perke getoets word. Sy vermoë om die vloei van produkte te beheer, sal noodsaaklik wees vir sukses in 2021.